Sirkel: Overberg
Tak: Kleinmond
Portefeulje: Leefstyl
Datum: 26 Julie 2022
Beriggewer: Hermien van Zyl

Bewaar ons erfenis

Kleinmond-VLV het besluit om fisies die VLVK-projek “Bewaar ons Erfenis” aan te pak, en wel deur elkeen ‘n joernaal saam te stel met erfenisresepte uit die familie- en vriendekring. Op ‘n latere gepaste geleentheid sal die lede se kosjoernale uitgestal word.

Die aangewese persoon om hiermee leiding te gee en lede se belangstelling en entoesiasme aan te wakker, was die erfeniskoskenner, Dine van Zyl. Hierdie bekroonde Afrikaanse skrywer van veral kookboeke, uitgewer en joernalis wie se artikels wyd in Afrikaanse tydskrifte en koerante gepubliseer is, woon in die nabygeleë Rooi-Els en is vir die VLV-lede in die Overberg geen onbekende nie. Sy het reeds by ‘n sirkelkonferensie opgetree as spreker en het in die televisieprogram Boerekos met Dine van Zyl, erkenning gegee aan die kundigheid van VLV-lede. Sirkel Overberg het haar vroeër reeds met ‘n toekenning vereer vir haar bewaring van ons koskultuur en in 2013 was sy een van die borge vir die VLVK- Boerderyvennootkompetisie met die VLVK-Kongres in Tygerberg.

Dine van Zyl se praatjie is toegelig met voorbeelde van haar eie Boerekos-boeke, tannie Christie Groenewald van Gansbaai se Grootmaat-Resepteboek, Britstown se Karoo-resepte en haar ma se verskeidenheid resepteboeke met haar interessante kantaantekeninge.

Sy het waardevolle wenke aan die lede gegee:
-Skryf ‘n voorwoord waarin jy vertel oor wie en vir wie die boek saamgestel word.
-Skryf ook oor jouself en plaas jou eie resepte daarin – moenie té beskeie wees nie
-Plaas foto’s van die persone by die resepte met beskrywings wie hulle was/is.
-Resepte kan handgeskrewe, uit tydskrifte, getik, gefotostateer wees
-Skep ‘n voorlopige inhoudsopgawe en pas dit aan by die hoeveelheid resepte van ‘n soort.
-Skryf kort stories of byskrifte oor die mense. Skryf uit jou hart uit, dis ‘n nostalgiese taak.

Maar VLV-Kleinmond het nie net by die verlede stilgestaan nie, een van die lede, Susan Botha, het met ‘n demonstrasie gewys hoe droog sy beskuit uit in ‘n nuwerwetse lugbraaier en maak spek-en-kersie happies wat die lede ná die vergadering kon geniet.

Pragtige paslike musiek is verskaf deur Thinus Ries wat die soliste Hilda van Wyk en Derick de Roos op die klavier begelei het met ou gunstelinge soos Edelweiss, If I were a rich man, Somewhere en O ma babbino caro.

Uitstallings van plakkate, boeke en kleredrag uit die 1950’s, asook ou kombuisgoed, het ‘n gevoel van nostalgie aan die vergadering verleen, en ‘n marktafel het die takfondse versterk.

Lede kon ook sien watter soort handwerk doen ons eweknieë in Australië toe Hermien van Zyl, Leefstyl-saamroeper, voorbeelde uitgestal het van die naaldwerk wat deur die Country Woman of Australia by die Medowie-tak gedoen word. Sy het hulle vergadering bygewoon tydens ‘n familiekuier.

Dine van Zyl (links) saam met die Leefstylsaamroeper, Hermien van Zyl


Dine van Zyl het só verduidelik hoe die boek saamgestel kan word.

 

 

 

Alice van Rooyen (links), die tak se plaaslike mediapersoon, bewonder die uitstalling van die ou kombuisgoed saam met Dine van Zyl.

 

 

 

 

 

 

 

 

 


Susan Botha besig met haar demonstrasie


Die heerlike spek-en-kersie happies wat in die lugbraaier gaargemaak is.

 

 

 

 

Thinus Ries, Hilda van Wyk en Derik de Roos wat die musiekitem verskaf het.

 

 

 

 

 


Uitstalling uit die 1950’s


Malinda Hugo en Louisa Karelse help vir Martie de Witt en Ria Coetzee weg by die marktafel.

 

 

 

 

 

Die uitstalling van die Aussie-naaldwerk

 

 

 

 


VLV-rose pryk op die voorsitter se tafel