Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Portefeulje: Gesondheid
Datum: 14 Junie 2022
Beriggewer: Theresa Troskie
Een van Murraysburg se staatmakerlede het onlangs ’n hele paar maande van erge trauma belewe a.g.v. gesondheidsprobleme. Alna Theron was dapper genoeg om haar pad deur die ses maande, wat vir haar gevoel het of sy in ’n donker mynskag toegemaak is, met ons te kom deel. Haar tema is Wholeheartedness and vulnerability.
Wholeheartedness sê Alna is nie volmaaktheid nie, dit is om gebrokenheid as ’n integrale deel van die lewe te omhels. Dit is onvoorwaardelike ondersteuning, aanvaarding en omgee tussen mense wat hulself “geheel” het uit die gebrokenheid van die lewe.
Vulnerability is kwesbaarheid, weerloosheid, sensitiwiteit, swakheid, broosheid en onsekerheid. Dit is om braaf en weerloos te wees. Hiervan is Jesus natuurlik die perfekte voorbeeld! Alna meen dis ook die emosie wat ons ervaar gedurende tye van onsekerheid en emosionele blootstelling. Dis wanneer jy broos is en nie in staat is om enige daad uit te voer nie. Dis om jou hart en emosies oop te vlek vir die wêreld. Om voluit te lewe, om lief te hê, om passievol te wees in wat jy doen … dit is om kwesbaar en “vulnerable” te wees!
Alna se mediese fonds wou nie meer haar chroniese medikasie vir angstigheid/angsaanvalle betaal nie en het haar opgedreun om weer ’n slag (na 4 of 5 jaar) na ’n psigiater te gaan vir ’n ondersoek en re-evaluasie van haar medikasie. Na hierdie ondersoek is Alna vir twee weke in die Sunnyside kliniek in Gqeberha toegelaat vir beradingsessies, “klasse” deur terapeute, ’n breinprofiel-ontleding, oefensessies en die evaluasie van nuwe medikasie, ens. deur maatskaplike werkers, arbeidsterapeute en sielkundiges.
Na die twee weke in die kliniek is Alna terug plaas toe met nuwe medikasie. Sy het byna dadelik ellendig begin voel en dit het van sleg na slegter met haar gegaan. Die psigiater se raad was net dat sy moet aanhou omdat die medikasie eers na ses weke ten volle sal werk.
Na ’n ses maande lange onsuksesvolle worsteling om haar medikasie presies met haar liggaam te sinchroniseer, is inligting van oorsese dokters ingewin. ’n Laaste moontlike middel is voorgestel en binne ’n week het sy begin beter voel! Dit was asof die mynskag om haar oopskuif en die son weer op haar skyn! Die doodsheid van haar gees het gewyk en haar liggaam het stadig maar seker genesing gevind ook omdat sy weer begin eet het.
Alna kan baie min onthou van hierdie aaklige ses maande van haar lewe. Sy weet net dat niks vir haar saak gemaak het nie, dat sy niks gevoel het nie en dat sy gevoel het asof niemand vir haar omgee of vir haar lief is nie.
Dit gaan nou met haar baie goed, maar sy stap steeds ’n pad van genesing. Sy getuig as volg:
• Wees dapper genoeg en verken die duisternis in jou lewe, dan sal jy oneindige krag en lig ontdek. Dit is die moed om ons hele menslike reis met al sy onvolmaakthede, teleurstellings, probleme en oorwinnings te aanvaar en te deel.
• Leef in die oomblik!
• Raak met waardigheid betrokke by jou lewe. Leer jouself om deernis, moed en konneksie met ander te kweek.
• In die arena van die lewe moet jy gereed wees om soms te verloor ook, jy moet bereid wees om vuil te word, maar jy moet wéét dat jy weer kan opstaan!
• Kyk na jouself, sorg vir jouself en luister na jouself.
• Sê die volgende rympie daagliks op en leer dit sommer vir jou kleinkinders ook:
I am smart
I am beautiful
I can do anything
And I am blessed!
Leave A Comment