Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Datum: 14 Junie 2022
Beriggewer: Theresa Troskie

Toe Carine Borman van Murraysburg essensiële olies begin gebruik en die waarde daarvan besef, het haar hande dadelik begin jeuk om méér daarmee te doen. Sy het navorsing gedoen en begin om produkte te vervaardig. Haar besigheid is ’n werk in wording, want hoe verder sy vorder, hoe meer doen sy navorsing en hoe meer word sy geprikkel om nog ’n groter verskeidenheid en beter produkte te vervaardig.

Carine se besigheid se naam is Silver Karoo. Sy het ’n webblad en facebookblad waar produkte bekyk en bestellings geplaas kan word.

Silver Karoo kry sy naam van die waardevolle silwer karoobossie wat in die Karoo voorkom. Hierdie produkte is uniek, omdat absoluut al die bestanddele in haar produkte van natuurlike aard is. Sy vervaardig selfs ’n onderarmsmeer wat uitstekend werk vir oormatige sweterigheid. Dit laat ook geen merke op klere of onderklere nie. Produkte is as volg: enige lyfrome, gesigrome, serums vir droë velle, room vir skurwe hakke en wintershande en –voete, Groen Mamba-room vir pyn, rome en boudjiesalf vir babas en daar is selfs ’n heerlike roompie vir kleintjies met skurwe, rooi “Sneeuberg” wangetjies!

Mag hierdie talentvolle entrepreneur se besigheid, Silver Karoo, van krag tot krag gaan!