Sirkel: SWD
Tak: Stilbaai
Studierigting: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Elaine Grobler
Datum: 13 Junie 2022

Om volhoubaar te leef begin in die tuin. Water kan as voorbeeld bespaar word, deur jou tuin uit te lê met vetplante. Daar is ‘n groot verskeidenheid vetplante beskikbaar waarmee tuin gemaak kan word.

Abraham Londt van Albertinia, het die dames toegespreek oor vetplante en vir die dames gewys hoe om blaarsteggies te maak van woestynrose.
1. Breek die buitenste blaar van die woestyn roos af.
2. Laat die blaar vir so 3 dae lê, sodat die wond goed droog word.
3. Plant die blaar in vlak sanderige grond of lê die blaar bo-op die sand.
4. Wortels sal na ‘n tyd vorm en n klein plantjie sal ontwikkel.
5. Die plantjie kan in ‘n klein potjie geplant word, in grond wat spesiaal gemeng word vir verplante.

Grond vir vetplante
Vetplante se grond sal wissel van area tot area. Die voorbereiding sal afhang van die vogtigheid en humiditeit van jou area. Die doel is om die wortels van die plantjies droog te hou. Vetplante het nie vrugbare grond nodig nie, hulle hou meer van arm grond.

Gebruik die grond tot jou beskikking, voeg growwe sand by om te verseker dat daar goeie dreinering is. ‘n Goeie mengsel is egter twee dele gewaste riviersand, een deel skerp klipsplinters en een deel kompos. Jy kan ook ‘n bietjie beenmeel byvoeg. Die goue reël is droë voete: laat die grondmengsel eers behoorlik uitdroog voordat jy weer die plante water gee.

Abraham Londt het elke Saterdag by die Stilbaai Brugmark ‘n vetplant uitstalling waar hy vetplante verkoop.