Tak: Aberdeen
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Christelle Nel
Datum: 1 Junie 2022

Aberdeen VLV kuier tydens Junie 2022 se vergadering by ‘n entrepreneur.

Lea van der Vyver verwelkom al die lede en bedank die spreker van die oggend, Archie Norval, vir die geleentheid om sy pragtige huis te besoek. Lucille van der Merwe neem die opening waar en bemoedig ons met die versekering dat ons goed genoeg is voor God, en daarom moet ons ophou om onsself te kruisig oor ons sondes.
VLV sake word vlugtig bespreek, waarna die pas afgelope Vrouedag in detail deurgetrap word. Aangesien ons oor minder as ‘n jaar die Konferensie aanbied, was dit ‘n goeie geleentheid om vir mekaar te kon sê wat gewerk het, en waaraan ons moet aandag gee vir Maart 2023.

Saamroeper vir Kunste & Handvlyt, Lucille van der Merwe, stel die spreker aan die woord. Archie en Nico Kemp se huis is ingeskryf vir die tydskrif TUIS se kompetisie, waar hulle in 3 kategorieë ingeskryf het.

Archie maak artikels uit leer wat hy as ‘n stokperdjie beoefen. Hy deel interessante inligting oor leer en toon ‘n verskeidenheid tipes leer waaraan die dames kon vat om die verskillende teksture en kwaliteit te ervaar.

Daarna ontvang elke dame ‘n stukkie voorafgesnyde leer wat ons moes toewerk. Die eindproduk was ‘n pragtige leerhouer vir ‘n voertuiglisensie of om enige kaart in te hou. Die lede het die selfdoen baie geniet. Toe was dit tyd om deur die pragtige gerestoureerde huis te loop.

Karen van Rensburg en Karin Pienaar het vir die heerlikste eetgoed gesorg waaraan behoorlik weggelê is.

Lea van der Vyver wen die gelukkige trekking van die dag.

Lucille van der Merwe & Archie Norval

 

 

 

Die kaarthouer uit leer wat elke dame toegewerk het

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Swaaie onder ‘n afdak waar heerlik gekuier word. Hierdie projek deur Archie is een van die inskrywings vir die kompetisie in die TUIS tydskrif

 

 

 

 

 

 

Groepsfoto: Agter: Christelle Nel, Lucille van der Merwe & Luise de Jager Middel: Elsa Featherstone, Annalie Lategan, Elna van Niekerk, Karen van Rensburg, Karin Pienaar, Stephanie Theron, Lea van der Vyver & Carina Esterhuizen Voor: Adele de Jager, Suzanne Lategan & Lizé de Jager