Bekendstellingstee
Jubileumhuis, Stellenbosch
Beriggewer: Estelle du Plessis
Datum: 27 Mei 2022
‘n Bekendstellingstee is op 27 Mei 2022 in Jubileumhuis gehou om verskeie persone in die gemeenskap bewus te maak van die Vroue-Landbouvereniging se werksaamhede en die VLVK-hoofkantoor gesetel in Stellenbosch.
Jubileumhuis is in 1842 gebou in die Georgiaanse boustyl . Dit was die anneks van die ou Grand Hotel op die hoek van Dorpstraat. Die hotel is gesloop maar die anneks gedeelte is behou. In die Eikestadnuus van 1 April 1977 word berig: “Stadsraad soek baas vir ou woning”. Die anneks gedeelte is aan VLVK verkoop in 1978 en gerestoureer tot bevrediging van die Raad van Nasionale Gedenkwaardighede en is binne drie maande betrek. Op 31 Augustus 1979 word die gebou as ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.
Mev. Ronella Rademeyer, ons ere-president het die museum ontwikkel tot ‘n internasionale vertoonlokaal. Op 1 Oktober 1997 is Jubileumhuis se tekstielmuseum deur Dr. Lizette Rabie geopen. Dit is die eerste en enigste suiwer tekstielmuseum in ons land. Die museum huisves pragtige borduurstukke van mev. R. Rademeyer asook van mev. Hetsie van Wyk, uitstaande borduurkunstenaar en baasontwerper en skrywer van twee internasionale werke oor borduurwerk. Elke jaar word die wenners van borduurwerk by Kongres, vir een jaar in Jubileumhuis uitgestal.
Oorsese besoekers word gereeld hier ontvang asook besoekers vanoor die hele Suid-Afrika. Die gebou is sopas geverf en gerestoureer. Al die dakplate is vervang en ons statige “ou dame” het ‘n nuwe hoed en baadjie, dalk moet ons sê “rok” ontvang en lyk pragtig in die geskiedkundige Dorpstraat van Stellenbosch.
Van die gaste wat die geleentheid bygewoon het, was o.a. Dr. Ivan Meyer, Minister van Landbou in die Wes-Kaap, asook Dr. Mogale Sebopetsa, departementshoof van Landbou in die Wes-Kaap. Dr. I. Meyer se department het aan Overberg ‘n ruim bedrag geskenk as borg vir kongres 2022. Dr. M. Sebopetsa het ‘n hele aantal geskenke aan VLVK oorhandig vir gebruik by Kongres. Dr. I. Meyer het VLVK uitgedaag om ‘n 1000 bome te plant. Sirkel Weskus het alreeds 100 bome geplant wat deur Dr. Meyer aan die Sirkel geskenk is.
Mev. Erika Lubbe, VLVK-Argivaris het aan die gaste die belangrikheid van die bewaring van VLVK se geskiedenis beklemtoon en ons kan met trots sê dat elke gebeurtenis in VLVKaapland, asook in elke Sirkel en Tak opgeteken word in die Argief.
Die bestuurshoof van Agri Wes-Kaap, Mnr Jannie Strydom en Mev. Rozette du Toit, raadslid van Stellenbosch Munisipaliteit asook Mev. Chrisna Smit, eggenoot van die Ontwikkelingsbestuurder van Taaibosch Wines en Pink Valley Wines het die geleentheid bygewoon en was dit eens dat hulle nie bewus was van al die werksaamhede van VLVK nie en hoe ‘n uitsonderlike gebou Jubileumhuis is nie. Vier Sirkelpresidentes van nabygeleë sirkels was teenwoordig by die geleentheid.
Die gaste het na afloop van die toesprake gesellig saam verkeer rondom tee en heerlike verversing, eie aan VLV.
Dr. Ivan Meyer Minister van Landbou in die Wes-Kaap en Estelle du Plessis, VLVK-president
Mnr. Jannie Strydom, Bestuurshoof van Agri Wes-Kaap; Mev Erika Lubbe, VLVK-argivaris; Dr Ivan Meyer, Minister van Landbou in die WesKaap; Mev Estelle du Plessis,VLVK-president en Dr. Mogale Sebopetsa, Departementshoof van Landbou in die Wes-Kaap.
Dr. Mogale Sebopetsa, Departementshoof van Landbou en Estelle du Plessis, VLVK-president
Sirkelpresidente wat die geleentheid bygewoon het.
Agter: Mev. Sunette de Villiers, Sirkel Worcester ; Mev. Marinda Rall, Sirkel Paarl; Mev. René Nel, Sirkel Tygerberg en Mev. Elsabe Carstens, Sirkel Weskus.
Voor: Mev. Erika Lubbe – VLVK-argivaris, Mev. Estelle du Plessis, VLVK-president.
Mnr. Jannie Strydom, Mev. Erika Lubbe, Dr. Ivan Meyer, Mev. Estelle du Plessis, Mev. Rozette du Toit, Raadslid van Stellenbosch Munisipaliteit, Dr. Mogale Sebopetsa
Adele Changuion, Skakelbeampte Agri Wes-Kaap, Mev. Estelle du Plessis, Mev. Erika Lubbe
Die kantoor van die Sekretaris in Jubileumhuis
Vir die geleentheid het Mev. Estelle du Plessis, VLVK President, rangskikkings en feetjieliggies aangebring om Jubileumhuis op te vrolik. Jubileumhuis is ons trots en daar word gepoog om die Hoofkantoor ook binne op te knap en te vernuwe.
Baie dankie aan ons VLVK President mev. Estelle du Plessis. asook mev. Marianna Jordan wat so hard gewerk het. Wat ‘n groot voorreg om deel van hierdie organisasie te kan wees. TROTS VLV!!!!
Baie GELUK Estelle, Marianna en die hele span wat gehelp het met die besonderse tee. Namens Sirkel Kimberley en Distrik wil ek ook ons “DANKIE” aan julle gee vir die bewaring van ons organisasie se TROTS. EK stem saam met Hannelie dat dit ‘n voorreg is om aan VLV te behoort en ons sirkel staan agter julle met elke tree vorentoe. Ons wens julle alle sterkte toe met die volgende projek en die res van die beplanning om VLVK te laat blink en voortleef vir nog vele geslagte.