Sirkel: NOK
Tak: Dordrecht
Studierigting: Openbare Sake
Beriggewer: Antoinette van Pletzen
Datum: 25 Mei 2022
Aanbieder: Ninke Venter
Gasvroue Marietha Swart en haar dogter, Ninke Venter, het almal op Woensdag 25 Mei by Marietha se huis verwelkom met ‘n heerlike glasie sjerrie en vrugtesap! Nadat voorsitter Lenie Fourie lede verwelkom het, het Ninke geopen met ‘n dagstukkie n.a.v. Jes.49:2. en ‘n gebed. Ons Godgegewe doel op aarde verg om te luister na God se stem. Wag op die Here, en moenie geleenthede laat verbygaan nie.
Die tema vir die dag was Openbare Sake, waarvan Ninke die tak se saamroeper is. Daarvoor het sy vir Deon de Koker van die SAPD op Queenstown gevra om oor Veiligheid te kom praat. Hy is ‘n Forensiese kenner en ondersoeker van misdaadtonele, asook ‘n polisie-fotograaf en betrokke by die honde-eenheid (K9). Hy praat oor VEILIGHEID in die algemeen. Veiligheid is duur. Hy vertel van ‘n paar uitsonderlike gevalle wat hy hanteer het, en ook dat hy ‘n slagoffer was omdat hy net één dag nie paraat was nie (nie deur gesluit nie!). LIGTE, heinings, Beams, alarmstelsel, kameras, diefwering, ens. is belangrik vir Veiligheid. Hy self gebruik ‘n mobiele alarm in sy huis – kan dit skuif na waar hy dit op daardie oomblik wil hê.
Pasop vir roetine. Die meeste aanvalle vind plaas wanneer jy tuiskom ná kerk of dorp, en stilhou om hek oop te maak. Ook vroegaand wanneer aandag by kosmaak is, of slaaptyd. Skelms gee jou 30 min nadat laaste lig afgeskakel is. Oor Vuurwapens: sal jy wérklik iemand kan skiet? Jy het 3 sekondes om te besluit! Indien JA, kry behoorlike opleiding, en bly kalm! Indien NEE, skaf vir jou alternatiewe wapens aan, soos “paintball”-geweer, speelgoedpistool of “BP-gun”. Pepersproei kan jou ook buite aksie stel. Bedink vooraf ‘n aksieplan in geval van ‘n aanval.
Voertuigveiligheid: moenie jou gesinsopset adverteer met plakkers op die agterruit nie! Verwyder kwitansies, dagboeke, ens. waarmee diewe jou adres kan bepaal, uit voertuig. Binnekant van voertuig verklap baie op misdaadtoneel, bv aantal vuil weggooikoppies sê hoeveel persone het waggestaan, vuil voertuig sê op watter terrein daar gery is, ens. Laat betroubare persone weet van jou bewegings, bv. jy ry nou uit die dorp plaas toe, doen radio-kontrole, ens. Werk jou veiligheidsgordel – en sit jy hom korrek aan? Is daar ‘n wielpomp en basiese motornoodhulp in jou voertuig? Al kan jy dit nie gebruik nie, sal iemand dalk opdaag wat dit wél kan gebruik. In geval van ‘n pap wiel: beweeg weg van jou voertuig as daar ‘n voertuig aankom. Bekyk aankomeling eers vanaf bosse om te sien of dit veilig lyk…..
As jy uit jou voertuig klim, hou ‘n pen in jou hand om mee te steek, en kyk goed rond. Steek jou motorsleutels dadelik in jou sak, nadat jy getoets het of die deure wél gesluit het. Loop in teenoorgestelde rigting weg om verwarring te veroorsaak. Indien aanval plaasvind, beweeg dadelik weg nadat jy die aanvaller onskadelik gestel het – moenie wag om te kyk wat gebeur nie. As jy terugklim in jou voertuig, sluit dadelik alle deure. Wees ALTYD waaksaam! In ‘n winkel moet jy wéét waar die nooduitgang en store is – daar sal uitgange wees. In die tou moet jy uitkyk vir vreemde optredes en eerder die winkel verlaat as jou 6de sintuig jou waarsku.
Hou ‘n sak met noodsaaklikhede byderhand om vinnig in ‘n noodgeval te gryp. Inhoud moet insluit: Houer met skuim (Tyre Fix) om band tydelik te herstel; Vice grip; basiese noodhulp items (soos rekverband, gaas, pynmedikasie, iets vir skok); Jumper cables; tou; reënjas of ‘n swart sak; toiletpapier; water; wolmus; handskoene; ens. Om bloed te stop kan staaldruppels, suikerpap of teesakkies gebruik word. Deon vertoon al hierdie artikels.
Nadat die byeenkoms verdaag het, het Marietha en Ninke almal trakteer op heerlike sop & tuisgebakte brood, asook soet & sout eetgoed – met tee/koffie!
Van links staan Ninke Venter, Deon de Koker en Marietha Swart
Die rugsakke wat noodtoestelle en voorraad bevat
Leave A Comment