Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 25 Mei 2022
Tooi Jou Huis Mooi
Die dames van VLV Voëlvlei was bevoorreg om Annemarie Stander, binnenshuise versierder, as gasspreker te geniet by hul Mei-vergadering. Annemarie meen dat elke mens so uniek is dat die beste versiering in die huis die vrou van die huis self is. Dit wat sy ís en waarvan sy hou, bepaal die voorkoms en atmosfeer van haar huis.
Met die mooiste materiale, kussings en idees is die dames ingelig oor die nuwe tendense in binnenshuise versiering. Neutrale kleure is die begin van alles en dan volg materiale met verskillende teksture, kleurskemas en kontraste. Dit is veral belangrik dat ekstra dinge uit onder andere die natuur, bygevoeg word. Ontwerpers in hoë geboue gebruik hulle inspirasie vanuit die natuur om te ontwerp. Die aanwending van veral blomme en plante as versiering in die huis, behoort seisoensgebonde te wees.
Die modeseisoene wissel in siklusse van ongeveer elke 30 jaar. (Daarom sal Ouma se geblomde gordyne ook seker weer eendag in die mode wees.)
Praktiese wenke wat sy gegee het, sluit onder andere in dat ‘n klein verandering ‘n groot verskil kan maak en dit nie baie hoef te kos nie. Deur bv slegs die slope van kussings te verander, maak dit onnodig om baie kussings te koop. Dit is egter belangrik om op sitplekke kussings van vere te hê omdat dit die liggaam se vorm aanneem en gemakliker sitposisies verseker.
Dit bly egter belangrik dat ‘n huis se versiering die vrou van die huis gelukkig moet maak en dat almal nie noodwendig van dieselfde dinge hou nie. Dit is dus glad nie nodig om, soos die Engelse uitdrukking lui, “to keep up with the Jones’s” nie.
Al die pragtige materiale, komberse, kussings en bybehore het asems weggeslaan en baie lede beïnvloed om hulle huise net so mooi te maak soos wat hulleself is!
Annemarie Stander tussen al haar mooi lappe.
Leave A Comment