Sirkel: Middelland
Tak: Aberdeen
Beriggewer: Christelle Nel
Datum:18 Mei 2022

Aberdeen se Vrouedag raak uiteindelik ‘n realiteit!

Aberdeen VLV kon uiteindelik vanjaar die intertak-vrouedag wat twee keer moes oorstaan a.g.v. Covid, aanbied. Dit was ‘n feestelike geleentheid wat deur ongeveer 110 dames bygewoon is. Pragtige wit en oranje volstruisvere en die mooiste tafeldekor het gesorg vir ‘n unieke en asemrowende styl. Naburige takke en dorpe was goed verteenwoordig en ons Sirkelpresident, Hannelie Low, het ons ook vergas met haar teenwoordigheid.

Die twee hoofsprekers van die dag was Elna de Klerk van Bloemfontein en Sophia van Heerden van Murraysburg. Elna het harte aangegryp met haar getuienis van haar OMPAD wat God se OPPAD geraak het, toe haar hele lewe vier jaar gelede handomkeer verander het van blakend gesond tot sy telkemale by die dood omgedraai het, en tot waar sy vandag is.

Sophia het meer vertel van haar pad wat gelei het tot haar suksesvolle rose-besigheid in die Karoo, nl. Sophia’s Roses. Wat begin het as ‘n paar roosbome in haar tuin, het uitgebrei tot ‘n besigheid met 16 000 roosbome en baie ander blomme. Vandag verskaf sy rose en blomme aan verskeie groot bloemiste en kweek ook eksklusiewe rose. Sy deel wenke rondom benatting, voeding en snoei.

Vanjaar is Aberdeen Tak 90 jaar oud, en die besonderse mylpaal is ook tydens die Vrouedag gevier. Een van die lede, Carina Esterhuizen, het haar bakvernuf ingespan en gesorg vir ‘n meesterstuk van ‘n verjaarsdagkoek. Tussen die twee sprekers het Lea van der Vyver (Voorsitter Aberdeen) en Hannelie Low (Sirkelpresident Middelland) die koek gesny.

Twee fantastiese pryse is deur Louvain Gasteplaas in die Langkloof en Marguerite Beneke met haar unieke glasskilderwerk, geborg. Lootjies is verkoop en die wenners is bepaal tydens ‘n gelukkige trekking. Verder was daar gelukkige trekkings op die kaartjienommers van die dag en ongeveer 50 vroue is bederf met ‘n geskenk of koopbewys. Daar was ook ‘n verskeidenheid stalletjies waar items te koop aangebied is.

Na afloop van die middagete is almal vrolik en geesvervuld uitmekaar en almal was dit eens dat dit ‘n onthoudag was!


Tafels was pragtig en uniek versier

 

 

 

 

 

 

 Tak se 90ste verjaarsdagkoek – kunswerk van Carina Esterhuizen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Geskenke vir die gaste – spekboompies in leë blikkies wat met decoupage versier is

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Sophia kon met ‘n paar gewillige rose spog wat nog pragtig geblom het

 

 

 

 

 

 

 

 

 


Pragtige boa’s


Takvoorsitter, Lea van der Vyver – die hart van Aberdeentak