Sirkel: Tygerberg
Tak: Parow
Portefuelje: Openbare Sake
Beriggewer: Lize Testa
Datum: 5 Mei 2022
“Mense sonder kennis van hulle geskiedenis, oorsprong en kultuur is soos ‘n boom sonder wortels.”. Marcus Harvey
VLV Parow het Donderdagaand, 5 Mei 2022, bietjie dieper in Parow se geskiedenis gaan delf saam Dorette Biccard (084 828 3344). Dorette is ‘n lid van VLV Parow, ‘n tuisbly-mamma en was voorheen werksaam by die Parow Munisipaliteit.
Tydens ‘n groot storm in Tafelbaai in 1865 het 19 skepe gestrand. Onder dit was die Kehrwieder, skip van kaptein Johann Heinrich Ferdinand Parow van Pruise. Parow het hom in die Kaap van Goeie Hoop gevestig en met Johanna Wilhelmina Timmerman getrou. Timmerman se familie het Parow gehelp na sy skip gesink het.
Hy het vinnig besef dat die Tygervallei-gebied noord van Kaapstad groot potensiaal het en ook geleenthede vir veehandel inhou. Parow het na die binneland getrek en later met grond begin spekuleer. In 1886 het hy die eienaar van die plase Tygervallei, Rustenburg en ander eiendomme in die omgewing geword waarop die dorpsgebied Parow later uitgelê is.
Op 4 Desember 1910 is hy in sy huis in Cassibelle, Maitland, oorlede. Sy vrou is 10 jaar voor hom oorlede. Hulle het geen kinders gehad nie.
Interessante gebeurtenisse in Parow
1903 – Kaptein Parow lê die hoeksteen van die eerste skool – tans Parow Laerskool.
1904 – Planne vir die eerste hotelle in die dorp goedgekeur – Parow Hotel en Central Hotel. Die Central hotel sou later beroemd (of berug) raak as die beste kuierplek in die dorp. Die hotel is egter in Desember 2006 in ‘n brand verwoes.
1905 – Die eerste kerkgebou, N.G. Kerk, in Sarel Cilliersstraat opgerig.
1910 – Parwo se eerste verkeersoortreder word R1.00 elk op twee aanklagte beboet.
1917 – Dr. DF Malan lê die hoeksteen vir die Nasionale Saal (stadsaal).
1918 – Groot Griep breek uit en lei tot baie sterftes. Die stadsaal was die enigste gebou waar lyke gestoor kon word.
1925 – Eerste kraanwater beskikbaar.
1939 – Parow word ‘n volwaardige munisipaliteit.
1956 – Beplanning om die grootste opleidingshospitaal (Tygerberg Hospitaal) in die land te bou, begin.
1967 – Tygerberg Hospitaal open.
1968 – Munisipaliteit kry sy eerste rekenaars.
1968 – Tiervlei se naam verander na Parowvallei.
2003 – Parow raak 100 jaar oud!
Nes elke volwaardige dorp, het Parow ook sy eie spookhuis(e). Volgens legende is ‘n hele familie in die vroeë 1900’s op ‘n geheimsinnige wyse dood aangetref in ‘n huis in Tallentstraat. Hierdie storie het deur die jare stertjies bygekry en wat die waarheid is, weet niemand waarskynlik meer nie. Nietemin het menigte ouer inwoners van Parow staaltjies te vertel van hulle noue ontkominge in daardie huis.
Terwyl Dorette die lede meer vertel het van Parow se geskiedenis, het hulle heerlik woord-Bingo gespeel en elkeen ‘n prys gewen. Elke lid het ook ‘n boekie gekry met Parow se geskiedenis “Van Toeka tot Nou”.
Ons unieke erfenis, geskiedenis en staaltjies loop soos bloed in elkeen van ons se are en maak nie saak waar in die wêreld ons onsself bevind nie, ons wortels (en harte) is diep in Suid-Afrika se grond.
Ons besit nie ons erfenis nie, ons bewaar dit bloot vir ons nageslag.
Leave A Comment