Sirkel: Weskus
Tak: Graafwater
Studierigting: Gesondheid
Beriggewer: Marina Visser
Datum: 3 Mei 2022
Graafwater VLV leer meer oor haarversorging.
Tydens Graafwater tak se maandelikse VLV vergadering op Dinsdag, 3 April, het Benita Gerber (sameroeper van Gesondheid en haarkapster) gepraat oor hare en die versorging daarvan.
Benita vertel dat ons hare uit verskillende deeltjies bestaan o.a keratien, haarsakkies en selle. ‘n Bejaarde persoon het in sy/haar leeftyd tot 25 stelle hare gehad, waarvan die eerste en laaste stelle die fynste en sagste is.
Eetgewoontes en siektes het ‘n invloed op ons hare en die toestand van ons hare kan ons weer ‘n aanduiding gee van siektes wat ons het. Diabetes veroorsaak ‘n sensitiewe kopvel. Haarverlies word veroorsaak deur sekere medikasie vir cholesterol en ook wanneer jou liggaam in skok gaan. Skok veroorsaak dat die hare in ‘n rus tydperk ingaan en nie die nodige werk doen nie.
Die tekstuur van jou hare speel ‘n rol in die kleurproses van jou hare. Fyner hare kleur makliker as growwer hare, maar growwe hare behou die kleur langer. Benita noem ook dat sekere soorte sjampoe byewas bevat wat fyner hare olierig maak en dat almal nie ewe sterk sjampoe kan gebruik nie. Ons kan gerus ons haarkapsters vra oor watter sjampoe om te gebruik en watter haarsnitte vir ons sal werk.
‘n Besoek aan die haarkapster gee jou nie net ‘n mooi en gesonder kapsel nie, maar het ook ‘n positiewe invloed op jou. Wie voel dan nou nie goed na ‘n suksesvolle besoek aan die haarsalon nie?
Benita Gerber
Leave A Comment