Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 27 April 2022
VLV Voëlvlei hou ‘n Vrolike Vergadering met Vrugte
Wanneer die lede van Voëlvlei in die toekoms vrugte gaan koop, sal hulle met ander oë na die eksotiese kiwivrug kyk. Ettiene Terblanche, ‘n boer van Waboomskraal (Herold distrik), het soveel interessante inligting oor díé klein vruggie met hulle gedeel dat dit moeilik sal wees om daarby verby te stap.
Danksy ‘n onderwyseres van Nieu-Seeland, Mary Isabel Fraser, is die vrug in ‘Kiwiland’ gevestig. Sy het ná ‘n vakansie in China, saadjies van die ‘Chinese gooseberry’, soos dit genoem is, saamgeneem huis toe en dit was die geboorte van die kiwivrug in haar land. Vandaar het die verbouiing daarvan oor die wêreld versprei totdat dit in die 1980’s ook die pad na Suid-Afrika gevind het. Tans is Italië die grootste verbouer met Nieu-Seeland in die tweede plek.
Kiwivrugte het baie gesondheidswaarde. Dit bevat dubbel soveel vitamien C as sitrusvrugte, en is ryk aan vesel, serotonien, antioksidante en minerale.
Dis interessant dat daar drie verskillende kleure kiwivrugte is, nl. groen, geel en rooi. Die klein kiwibessie is ‘n nuutjie met ‘n gladde skil en word soos druiwe met skil en al geëet.
Danksy die kiwiboere word die byeboerdery ook versterk. Met ongeveer 1000 saadjies per vrug, is 10 korwe per hektaar nodig vir bestuiwing. Klawer word onder die kiwi’s aangeplant omdat die kiwi se blomme baie stuifmeel, maar nie genoeg nektar vir die bye bevat nie en die blomme van die klawer bevat weer meer nektar as stuifmeel.
Om kiwivrugte te vestig, is baie duur. Boere moet die risiko’s van siektes, smaak- en kwaliteitvariasies, oorbemarking, prysvermindering, stoorkapasiteit en markbekendstelling die hoof bied. In ideale omstandighede sal ‘n boer na 5 jaar finansieel gelyk breek.
Na die praatjie, het die dames as deel van die tema “Bewaar ons Erfenis”, ‘n paar vrolike volksliedjies gesing. Hulle is aangemoedig om hierdie erfenis aan hulle kinders en klienkinders oor te dra. Die saamsing is afgesluit met ons eie VLV lied.
Nuutskeppings in die Afrikaanse taal het die dames meesal uitgeboul en heerlik laat lag.
‘n Vrolike voorlesing van “‘n Skinderstorie” deur Ada Gericke het die byeenkoms verder kleur gegee en die middag is afgesluit met eksotiese vrugteslaai (met o.a. geel kiwi’s van Etienne).
Joria Pienaar, Tersia Prinsloo en Betsie van Antwerpen Johlene Muller (Landbou en Tuinbou Sameroeper)
Etienne Terblanche en Johlene Muller
Leave A Comment