Sirkel: NOK
Tak: Dordrecht
Studierigting: Leefstyl
Beriggewer: Antoinette van Pletzen
Datum: 20 April 2022

Op Woensdag 20 April het Dordrecht se VLV-lede by Elize Oosthuizen se plaashuis byeen gekom vir ‘n Leefstylprogram.
Elize het vir Marina Hartley en haar vriendin, Sally McIntyre vanaf Queenstown voorgestel, wat masjiengeborduurde artikels te koop saamgebring het, asook die prys vir die gelukkige trekking.

Toe het sy Elize Schulze van Aliwal-Noord aan die woord gestel om oor haar dekor-projekte en herwinnings te praat. Sy verf graag ou planke en meubels – “Iets uit Niks”! Was ‘n ou kis met suikerseep af en sit dan vernis oor vóórdat dit geverf word. Laat ten minste 4 ure staan tussen lae. Die weer moet ook reg wees. Soms kan jy van jou meubels en/of versierings net bietjie rondskuif vir ‘n heeltemal nuwe voorkoms – of gee ‘n laag verf! Kunstigheid vat perfeksionisme ‘n bietjie vas. Niks hoef meer perfek te wees nie. Moenie altyd nuwe goed koop nie – gebruik wat jy het, bv geskenkpapier om rame mee oor te trek.

Lenie Fourie het die wenk gegee dat Colgate-tandepasta help om barste in mure blywend op te vul. Anna van Niekerk het ‘n lampskerm van gras gewys wat eers met suikerseep-mengsel skoongespuit moet word, voordat dit met Pearl Glow geverf word.

Van links: Lenie Fourie, Anna van Niekerk, Elize Schulze, Marina Hartley, Elize Oosthuizen, Sally McIntyre, Antoinette van Pletzen, Kintie Liebenberg, en Bertha Rossouw

Saamroeper Elize Oosthuizen (regs) by Elize Schulze van Aliwal-Noord