Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Studierigting: Openbare Sake
Beriggewer: Letty-Ann Möller
Datum: 5 April 2022
Radio is the Theatre of the Mind
Rudi de Waal, bestuurder van die gemeenskapsradiostasie, Radio Overberg, was op Dinsdag 5 April 2022 die gasspreker by die Openbare Sake vergadering van Bredasdorp VLV tak.
Hy het sy praatjie begin met …”Die meeste van ons sal onthou hoe ons grootgeword het die jare vóór televisie…met die draadloos of die fm-pie, soos my ouma-hulle dit genoem het, maar in 1975 is die prentjies in jou kop met beeldradio vervang.”
Radio het ook ‘n nuwe fase ingegaan. Die eerste radio uitsending het in 1781 plaasgevind. Heindrich Hertz het in 1888 daarin geslaag om seine op kort afstand suksesvol te stuur. Verskeie
wetenskaplikes, o.a. Marconi, het navorsing oor radio gedoen.
Dis broodnodig dat ook gemeenskapsradio’s dringend ontwikkel en dis uiters belangrik dat gemeenskapsradio die voorkeure van die gemeenskap weergee.
Reeds in 2010 is aanvoorwerk vir Radio Overberg deur Piet Maré en Marius Nel gedoen en sedertdien het die radiostasie ontwikkel.
Radio Overberg verkies om na hulle omroepers as Radiopersoonlikhede te verwys “omdat elkeen se persoonlikheid in sy program reflekteer.”
Behalwe vir 3 vaste aanstellings, naamlik die stasie-, administratiewe – en tegniese bestuurders,
is die res van die 24 passievolle radiopersoonlikhede vrywilligers.
Rudi de Waal, het sy dank vir die steun van die plaaslike munisipaliteit uitgelig en verwys na “die ongelooflike groei” van adverteerders die afgelope twee jaar.
Radio Overberg se OKASA (Afrikaans vir ICASA) – lisensie bepaal die radio-inhoud ten opsigte van demografiese statistieke.
Radio het ‘n baie belangrike rol en verantwoordelikheid teenoor sy luisteraars plaaslik sowel as internasionaal. Lande wat digitaal luister na Radio Overberg is o.a. Argentinië, die VSA, Kanada, Malta, Katar, Indonesië en Dubai.
“U as luisteraar is ons maatstaf van wat werk en wat nie werk nie.”
Tik in “Radio Overberg” en kyk wat op die webwerf is en skakel in op 101.8 fm.
Rudi sluit af met, “Soos oud-RSG-omroeper, Lynette Francis- Puren dit stel: Op die ou end is radio nie net ‘n bron van kennis en vermaak nie, maar dis jou huisgenoot.”
Maureen Eksteen, administratiewe bestuurder van Radio Overberg, het verras met ‘n welluidende sangsolo en oud-radiopersoonlikhede Ora Laubscher en Letty-Ann Möller het die Amigurumi-groep (die tak se hekel-en brei werksgroep) voorgestel en op tipiese radiotrant die donateurs van die dag se gelukkige trekkings aangekondig. Die skenkings was De Thierry se SKIPSKOP wyne en Etienne Kriel van Moerse restaurant se poniestert palms. Daar was ook ‘n blompot versameling van Ann Gunning wat Diana de Wet en Anette Fourie uitgeloot het.
Irene Groenewald, hoofbeoordelaar van die tak, het verras met haar inspirasie tot ontwikkeling en groei van VLV-vaardighede met verwysing na die effek van water op ‘n teesakkie.
Gina Joubert se Leefstylgroep se uitstalling van twee paastafels se simboliek, rooi vir die kruisiging en wit vir die opstanding, het die belangrikheid van Paastyd op die Christenkalender geïllustreer.
Selfs die skriflesing en gebed was uitsonderlik omdat twee van die gasvroue die simboliek van goeie saad bespreek het en die gaste uitgenooi het om elkeen ‘n sakkie Afrikanersaad (Marigolds) van die boom waarin dit uitgestal is, huistoe te neem.
In retrospeksie was die Openbare Sake vergadering ‘n stimulerende ervaring. Van die skriflesing wat deur Annetjie de Beer en Susan Bezuidenhout waargeneem is tot by die sekretaresse, Annemi Fourie, se afsluiting.
Leave A Comment