Sirkel: Tygerberg
Tak: Kuilsrivier
Studierigting: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Elmine Möller
Datum: 2 Maart 2022
BEWAAR ONS ERFENIS:
Op Woensdag 2 Maart 2022 het Professor Matilda Burden, emeritus professor verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch en Noordwes Universiteit, Kultuurhistorikus en Erfeniskonsultant, die Algemene Vergadering van VLV Kuilsrivier besoek. Sy het ‘n baie insiggewende praatjie gelewer oor die vroeë Pioniers aan die Kaap. Dit het betrekking op die VLVK projek “Bewaar ons Erfenis”.
Die vroeë pioniers was koloniste met politieke bagasie en nie baie gewild nie. Kolonialisasie is deur die vroeë beskawings, soos die Romeinse Ryk, gebruik. Dit is deel van die geskiedenis waaraan ons nie veel kan doen nie. Ons is nasate van Koloniste, maar ons is nie Europeërs nie – ons is Afrikane wat uit baie bevolkingsgroepe saamgestel is. Die ou pioniers het binne een generasie reeds vermeng. Die Hollanders het nie die grootste bydrae tot die Kaapse genepoel gehad nie, maar meer die Duitsers en Skandinawieërs.
In die vroeë tye was daar geen koerante nie, slegs verslae en reisbeskrywings oor die waarnemings van reisigers wat die binneland besoek het. Daar bestaan min sketse en tekeninge van die ou pioniers. Die mees geloofwaardige beskrywings is van verskeie reisigers soos Heindrich Engeldorfer (Duits), Friedrich Mentzel, Jan Stravorinus (Nederland), Carl Dieter Turnberg (Sweeds), ‘n botanikus en geneesheer wat die Kaapse flora opgeteken het ± 1770 en Karman (Sweeds), ook ‘n botanikus, John Barrow (Brits) ± 1790 wat baie negatief was en nie baie van die Kapenaars gehou het nie.
Die Britse Lady Ann Barnard het ook ‘n groot bydrae gelewer met haar reisbeskrywings. Sy het net tot by die Overberg gereis en was redelik bevooroordeeld, maar tog ook humoristies. Die Duitser, Lichtenstein (± 1803) en die Hollandse Paravicini de Capelli het baie goed dagboek gehou. Die Britse natuurkundige, William Burchell, het ‘n vierjaarlange reis die binneland in onderneem.
Uit die reisbeskrywings kan ons die volgende aflei:
Gasvryheid:
Suid-Afrikaners se gasvryheid staan uit al ry misdaad dit soms in die wiele. “Hospitality rules everywhere”. Daar is altyd genoeg te ete en te drinke, hulle deel alles en verwelkom vreemdelinge en gaste altyd hartlik. Hulle sit groot etes voor en die slaapplek is altyd gerieflik. Lady Ann Barnard beskryf die pioniers as ongeskik – moontlik a.g.v. die taalverskille – maar tog gasvry en hartlik.
Voorkoms:
Die plattelanders word oor die algemeen beskryf as groot, oorgewig en onaktief en dat hull baie eet. Hulle tandsorg is swak. Hulle kom stug en onkundig voor, maar dit kon moontlik ook aan die taalverskille toegeskryf word. Charles Bell, na wie Bellville vernoem is, het sketse van die pioniers gemaak. Die vroue word as aantreklik beskryf ten spyte van hulle oorgewig.
Intellek:
Die vroue is, oor die algemeen, beskryf as meer intellektueel as die mans. Baie mense kon nie lees of skryf nie. Vroue het die huishoudings behartig en is fluks en besig.
Die pioniers word meestal beskryf as gasvry, goedhartig, fluks, opreg en slim en dat hulle hulle slawe goed behandel, teenoor sommige van die reisbeskrywings wat hulle as lui, nors, ongeskik, stug, bot, dom en onopgelei beskryf. Die negatiewe kommentaar word oor die algemeen aan ‘n gebrek aan perspektief toegeskryf en ook negatiwiteit omdat die reisigers nie uit vrye wil na die Kaap gestuur is nie. Taalgebrek het ‘n groot rol gespeel. Die reisigers het ‘n Europese uitkyk op die Afrikane gehad.
Mariëtte Krige bedank Prof. Burden vir ‘n insiggewende praatjie.
“n Uitstalling van antieke gebruiksartikels is deur Mariëtte Krige gedoen.
Kuilsrivier se Algemene Takvergaderings word hierdie jaar, elkeen aan ‘n kleur gekoppel. Maart was ons reënboogmaand en reënboog kolwyntjies en -toebroodjies is saam met die tee bedien.
Op ons spogtafel het die lede met hulle handewerk gespog. ‘n Dooprok wat destyds, op die nippertjie, op nagdiens, in die teater deur Whileen Galvin klaar gebrei is, is uitgestal.
Ons lede dra ook mildelik by vir ons takprojek ‘Brei vir die gemeemskap’ deur beertjies en poppies vir die Sirkelprojek, Iris House Childrens Hospice, te brei. Skenkings van nie-berfbare produkte is ook van die lede ontvang vir die Iris House projek.
Die marktafel is goed ondersteun.
Lede neem fluks aan die takkompetisies deel. Die interessante groenterangskikkings en laslapwerk het die oog gevang.
Etetia Conradie, Leefstyl Sameroeper, bedank Anette Bekker, die beoordelaar.
Tydens die vergadering is ‘n kers aangesteek vir Vrede en ook in meegevoel met die mense van Oekraïne. Direkte familie van ‘n lid se skoondogter, is in die oorlog vasgekeer.
Marianne Smit deel ‘n handige wenk oor hoe om ‘n lang rok netjies oor 2 klerehangers op te hang. Sy noem ook dat oorskiet verf langer hou as jy eers ‘n lagie kleefplastiek bo-oor sit voordag jy die deksel opsit.
Leave A Comment