Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 18 Maart 2022
Vlv Voëlvlei – ons leer en presteer
Zettie Jonker en Anthea du Preez
Leer: Die lede van die Voëlvlei-tak het ‘n baie leersame Maart-vergadering agter die rug. Hulle was bevoorreg om deur Zettie Jonker en Anthea du Preez van die Zettie Jonker Hulpsentrum en ETHAN-projek ingelig te word oor die werk wat hier in Mosselbaai gedoen word vir kinders met outisme en ander spesiale behoeftes. Die holistiese, kindgerigte onderwys by die ZR-hulpsentrum is ‘n passie by ‘n toegewyde personeel. Kinders tussen 3 en 18 kry spesiale onderrig in gedrags-, emosionele-, fisiese-, sosiale- en intellektuele uitdagings. Die ETHAN-projek behels opleiding aan ouers, onderwysers, terapeute en ander betrokkenes om outistiese kinders beter te ondersteun. Hulle help met die diagnosering van outisme, en bied maandelikse byeenkomste aan ouerondersteuningsgroepe.
Ander leersame bydraes was inligting oor die voël van die jaar, naamlik die witmalgas, asook oor voedsel vir goeie dermgesondheid.
Presteer: Louisa Smit het verslag gedoen oor die pas afgelope SWD sirkelkonferensie te Riversdal. Voëlvlei-tak kan met reg trots wees, want nie net is Elize Locke verkies as die nuwe sirkelpresident nie, maar nie minder nie as 3 trofeë is vir VLVK-, en 5 vir SWD kompetisies, deur Voëlvlei-lede verower. Daarbenewens het nog 3 inskrywings vir VLVK en 2 by SWD elk ‘n tweede plek behaal. 5 ander inskrywings het‘n derde plek by SWD verower. Die mees uitstaande artikel op die SWD sirkelkonferensie was die breiwerk van Annemarie van der Merwe. Verder het Voëlvlei ook die “Simply the Best”-beker gewen.
Vyf lede het diensknopies ontvang vir lang en getroue diensjare as lede van die VLV.
Maart was dus ‘n goeie maand vir Voëlvlei VLV en die dames is met groot dankbaarheid gevul om deel te mag wees van die tak.
Trofeewenners
Vlnr Chrisilda van Rensburg (Gebak), Ada Gericke (Boekbespreking), Elize Locke (Hekelwerk), Johlene Muller (Borduurwerk), Anne-Marie van der Merwe (Breiwerk en Handvlyt) en sittende Sandra Nolte (Masjienwerk)
Hangers gebrei deur Anne-Marie van der Merwe
Geverfde slaailepels
Diensjaarknopies
Vlnr Marie van Rensburg – 25 jaar, Freda Menderoi – 50 jaar, Andrieshia Radyn – 30 jaar, Dania van der Walt – 15 jaar
Leave A Comment