Sirkel: Overberg
Konferensie 2022
Beriggewer:Letty-Ann Möller
Datum: 16 Maart 2022

VLV OVERBERGSIRKEL GROEI
Die 88ste Konferensie van VLV Sirkel Overberg was loshande een van die bestes. Gansbaai se VLV-tak spog met die beste deurlopende bywoningsyfer (85%) en hierdie tak van 60 lede se sinergie was tasbaar tydens die konferensie op Gansbaai. Effektiewe kommunikasie, orde, gasvryheid en kwaliteit aanbiedings was aan die orde van die dag en daar was ook toenemende deelname van die onderskeie takke soos weerspieël in die trofees wat aan die einde van die verrigtinge uitgedeel is.

Bredasdorp het – soos verlede jaar – die meeste punte behaal, maar daar is ook trofees aan Hermanus, Kleinmond, Villiersdorp en Gansbaai oorhandig. Caledon het met meeste van die uitgelote pryse weggestap!

Individuele uitblinkers vir kompetisie-items was die twee Bredasdorpers, Erna Visser en Irene Groenewald.

Die Vroue Landbou Vereniging Kaapland (VLVK) se nuutverkose president, Estelle du Plessis, omhels die ouderdom en die vryhede en geleenthede wat dit bied. Die feit dat sy ‘n paar veranderinge gaan aanbring is – te oordeel aan die spontane applous – hartlik verwelkom.

Die Uitvoerende Burgemeester van Overstrand, Annelie Rabie, het ook ‘n kragtige boodskap gebring. Sy het met waardering verwys na die gaskunstenaar, Ruben Lennox, se rustige musiek en het in teenstelling daarmee verwys na “die geraas in die Politiek”. Sy het egter ook die “baie hoë vlakke van interpersoonlike toleransie in die Overberg” uitgelig en bygevoeg “Overberg is for All”. Dr. Rabie was voorheen van Beaufort-Wes.

Die maatskaplike werker, Fransil Kotze, van Overberg Hospice het genoem sy fokus op “primêre verhoudingsbou” en daarom verkies sy dat diegene wat met kanker gediagnoseer word reeds by diagnose Overberg Hospice moet kontak sodat die pasiënt sowel as die geaffekteerde gesin die staanspoor die nodige begeleiding kan kry.

Cornie Swart, voorheen president van Agri Wes-Kaap, het sy 5-punt-plan verduidelik en tot die slotsom gekom dat die mens twee goed wil ervaar, “to be loved” en “to be valued”.

Die Hoofspreker was Susan Bezuidenhout van Pennydrop Training Solutions. Susan het die gehoor (hoofsaaklik vroue) met verskeie eksperimente betrek om die begrip “volhoubare groei” te demonstreer. Een van die pryse wat uitgeloot is, was ‘n gratis sessie by Pennydrop Training Solutions.

Sirkelpresident, Rienie Ludick, het genoem dis verblydend dat VLV Sirkel Overberg GROEI. Nie alleen met ouer lede wat aansluit nie, maar ook met lede so jonk soos 40.