Sirkel: Paarl
Tak: Strand
Studierigtng: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Erna de Waal
Datum: 15 Maart 2022

Strand VLV vier fees

Vrolike lede van Strand Tak het met groot optimisme en dankbaarheid by hul vergadering opgedaag. Almal is pandemie voos en verlang na iets wat “normaal” is. Ná meer as twee jaar se ingehokte lewe en versigtigheid om in die openbaar te beweeg, is dit is werklik ‘n vreugde om mekaar weer te sien en gesellig te kan verkeer.

                     

Om die vrolikheid aan die gang te kry, het Schalk van Greuning wat al saam met Bobby van Jaarsveld en Anriëtte opgetree het, sy kitaar gebring om ons te vermaak met bekende, geliefde, vrolike liedjies wat genoeg ritme gehad het om die voete te laat jeuk. Die Voorsitter, Leta du Preez en Erna Krüger het die vloer gevat en gewys hoe ons die hip-hop gedans het!

Die spreker vir hierdie geleentheid was Mnr. Gertjie Odendaal, ‘n bekende storieverteller van formaat. Hy woon op ‘n plaas naby Stormsvlei tussen Bredasdorp en Riviersonderend. Hy het baie kykers al vermaak op die program “Op die stoep” in die Paarl. Hengel is sy forte, dus is dit nie verrassend dat hy in die Suid-Afrikaanse Hengelspan is nie. Die stories was grappig, komies en met smaak vertel en dit het ons trots gemaak op ons taal. Daar is stories wat net in Afrikaans vertel kan word. Toe hy klaar was, het dit gevoel of mens nie gou weer jou kakebeen op sy plek gaan kry nie. Sy stories het mens laat vergeet van virusse, geldnood, hoë petrolprys, korrupsie en oorlog.

Die meer as nege dekades oue Strand Tak het die jaarlikse konferensie in Slot van die Paarl se saal die eerste keer as deel van die Paarl Sirkel bygewoon en met talle pryse wat deur lede verwerf is, teruggekeer. Benewens die vyf eerste pryse wat trotse lede verower het, het Strand Tak ook die trofee vir die mees uitstaande artikel ontvang. Die kersie op die koek was egter toe Strand Tak die “Tip Top” trofee opgeraap het vir die tak wat op alle terreine hul deel doen vir die bevordering van die VLV en hul insette in die gemeenskap. Die wenners het hulle trofeë met trots ontvang.

Hierdie tak het die eerste plek behaal vir Woordkuns, Hekelwerk, Macramé, die dames drasak van leer en denim. Hulle het ook die tweede plekke vir woordkuns, skilder, en konfyt asook die derde plek vir hulle brood.

Hierdie prestasies was inderdaad die feesviering werd en ons sien uit na die volgende vergadering!

Die trotse pryswenners wat hulself bewys het by die afgelope Konferensie van die Paarl Sirkel spog met hulle trofeë. V.l.n.r. Bets Basson – Strand Tak se bobaas naaldwerkster, Wilhemien le Roux – naaswenner vir haar beeldende kuns, Erna Krüger – woordkunstenaar van formaat wat eerste plek vir haar skryfwerk verwerf het, Leta du Preez – Voorsitter van Strand Tak wat in Handvlyt, Hekelwerk asook die Wisselafdeling met die louere weggestap het, Jossie van Schoor wat met blomme tower.

 

 

Strand Tak se Baasbaksters wat vir niemand terugstaan nie. V.l.n.r. Ilse Barnard, Bets Basson en Mariaan Herbert.

 

 

 

 


Die gasvrouens vir hierdie geleentheid wat hulle uitstekend van hulle taak gekwyt het by hulle pragtafel. ‘n VLV vrou wéét hoe om smullekker verleidelikhede te maak! V.l.n.r. Louisa Höll, Marieta Slabbert, Sunita Holwill, Marie Bester, Susan Alberts (Sameroeper), Annette Stander, Maretha Human.