Sirkel: SWD
Konferensie 2022
Beriggewer: Lydie Terblanche
Datum: 3 Maart 2022

Presidentsrede te Riversdal 2022
Johlene Muller, Sirkelpresident

Toe ek in 2010 verkies is tot Sirkelpresident, het ek myself as masjinis bevind op ‘n VLV-treinrit. Kompleet met stasies, masjinis, kondukteur, stoker en passasiers.

Daar was baie stasies waar ek moes afklim om klein werkies te doen. Daar het ek genoeg steenkool en inspirasie gekry om weer na ‘n volgende bestemming te reis. Maar daar was ook stasies wat hul spore toegemaak het. Aanvanklik was daar 19 stasies, maar die volgende plekke het hul stasies gesluit, nl. 2011 Albertinia, 2013 Mosselbaai, 2016 De Rust en 2017 Ruiterbos.
Met groot hartseer het ek van hul afskeid geneem, want hulle was deel van ons VLV-familie. Gelukkig het die stasie Eden weer in 2018 bygekom.

Ek het my reis begin met 501 passasiers. Tydens die reis het daar baie nuwe gesigte opgeklim waarvoor ek baie dankbaar is, maar ongelukkig het 129 van hulle afgeklim. Party, omdat hul ‘n werklike rede gehad het, maar ander sonder redes.

In ons 2020-2021 boekjaar het ons 43 nuwe lede gekry, ‘n ongelooflike aantal lede, maar ongelukkig het 31 bedank, met lede wat gesterf het en geskrap is; dus het ons ‘n groei van 3 lede gehad.

Om my trein op die spoor te hou, moet ek dit gereeld laat diens en steenkool aankoop wat nogal ‘n stewige bedraggie beloop. Ek is afhanklik van die hoeveelheid passasiers om my finansies te laat klop. Hoe meer dames afklim, hoe minder raak my inkomste, m.a.w. hoe swaarder word die finansiële druk op die ander persone, want my boeke moet klop. So dames dink 2 keer voordat jy besluit om nie meer die reis mee te maak nie.

Hierdie trein is my trots en ek wil hê elkeen wat saamry, moet so voel. Ons organisasie is bykans 100 jaar oud. Moenie dat ek die oorsaak gaan wees dat daar deure vir ons toegemaak gaan word nie.

Die spoorlyn loop nie altyd net op gelyktes nie – daar is opdraandes en afdraandes. By die styl heuwels het ek gelukkig ywerige werkers gehad wat my gehelp het om weer op die gelyktes te kom. Baie dankie aan elke SWD-bestuurslid, oud-bestuurslid, voorsitters, 2 stokers, 3 kondukteurs en lede wat my baie getrou ondersteun het. En as ek dalk per ongeluk die trein met nat steenkool gestook het en sodoende die trein se spoed verminder het, vra ek nederig om verskoning.

Ons VLVK-tema vir hierdie jaar is Leef Volhoubaar. Wat beteken dit om volhoubaar te leef? Dit is om onbepaald produktief te bly. As jy nie gaan vernuwe nie, gaan jy stagneer en dan is daar geen sprake van onbepaald produktief te wees.

Ek het sekere vereistes gekies wat ons moet nastreef om volhoubaar te leef. Ek het sekere vroue uit die Bybel gekies, wat identifiseer met hierdie eienskappe.
1. Die eerste vrou is Maria wat by Jesus se voete gesit het. Dit is die dame wat bereid is om te leer en te dien. Sy is nederig en onderdanig, beskik oor ‘n sterk en edel persoonlikheid. Niemand van ons het ‘n graad oor hoe om ‘n organisasie te bedryf nie. Maar as ek bereid is om te dien en leer uit ander se ondervinding, kan jy jou organisasie volhoubaar lei. Daar is handleidings, bestuurslede en vriendinne wat jou hande sal vashou en lei. Ons kan nie van ‘n voorsitter verwag om onbepaald die leiding te neem nie. ‘n Mens raak later sonder idees. Ek wil vir daardie dame sê, baie dankie vir omgee en vasbyt. Moenie dat ons wegkruip agter die woord “afgetree” nie. Ons het nie genoeg jonger dames om hierdie taak oor te neem nie, so asseblief, doen jou deel. As ek myself verbind het tot ‘n organisasie, dan moet ek diensbaar wees. As jy nie gemaklik voel om op die bestuur te dien nie, vra asseblief hulp by jou voorsitter en vriendinne. So maak ons die voorsitter se werklas minder.

Covid het ons lede afgesonder en lui gemaak. Skielik het ek gewoond geraak om maar net asem te haal. Dames die VLV is ‘n organisasie vir alle vroue waar ons onsself kan verryk. ‘n Organisasie om trots op te wees. ‘n Vraag? Is ek trots op myself om deel te wees van die VLV? Wil ek dit graag aan ander vertel of bly ek maar liewer stil? Ek is trots op my vereniging en dit is vir my ‘n voorreg om te kan dien.

2. Vroue wat ‘n verskil wil maak. Dit is die tweede eienskap in die Esters van die Bybel. Hulle sit en wag nie vir iemand om leiding te neem nie – nee, hulle bied dit aan. Hulle is bereid om hul opinie te gee, sonder om hul wil op ander af te druk. Hulle entoesiasme en positiwiteit is aansteeklik.

3. Ons het almal talente van ons Hemelse Vader ontvang – party baie, ander minder. Dorkas het talente ontvang, maar sy het gedink dat dit maar min is. Ten spyte van dit, het sy haar talente ten volle benut. Geen talent is te gering nie. Dit hang van jou af of jy dit gaan ontwikkel en sal gebruik tot voordeel van die organisasie. Wees beskikbaar en bied jou dienste aan. Jou talent is dalk baie uniek en kan nuttig gebruik word.

4. Martha: dit is die vrou wat verder kan sien en verder kan dink as net vandag. Ons moet ‘n visie hê vir ons organisasie om te verhoed dat dit stagneer. Sy moet planne kan maak. Lede werwing is een van die grootste struikelblokke.

Hoe moet ek dit doen? Deur ‘n positiewe beeld van VLV uit te stuur. Nie negatiewe dinge te sê nie. Ons moet sigbaar wees in ons gemeenskap. Ons vergaderings moet interessant, insiggewend en leersaam wees. Bemark (verkoop) die VLV – daar is baie maniere in die media beskikbaar. Nooi nuwe vriendinne saam. Ek sê weer – moenie negatiewe dinge sê nie – dit kan baie planne in die wiele ry. Geen organisasie kan groei as daar negatiewe gevoelens is nie.

5. Ware vriendskap vind ek in die lewe van Rut. Dit is die lid wat altyd bereid is om die ekstra myl te loop. Sy is lojaal, help die wat swaarkry en sukkel, ondersteun haar leier en gee nooit moed op nie. Om volhoubaar te leef, mag ons nooit moed opgee nie. Kommunikeer met mekaar, sodat misverstande nie plaasvind nie.

6. Dan het ons die Naomi ’s nodig om volhoubaar te leef. Dit is die aangename, sagmoedige en vriendelike dames. Vroue wat met hul sonnige geaardhede mense aantrek, wat in krisistye koelkop bly en rustig plofbare situasies ontlont. Dit is die dame wat lede saambind.

7. Die laaste eienskap vind ek in die Hanna ’s. Vroue wat op hul knieë bly om ons organisasie op te dra aan ons Hemelse Vader. Daarsonder kan geen organisasie staande bly nie.

Om volhoubaar te leef, kom nie vanself nie. Geduld, entoesiasme, produktiwiteit, liefde, tyd en gebed is daagliks nodig om die wiel aan die rol te hou om ons VLV-trein op die spoor te hou.

Jy as lid kan ‘n keuse maak: wil jy hê dat jou organisasie moet onbepaald produktief bly of wil jy hê dit moet stagneer en ‘n stadige dood sterf?
Kies vandag: wil jy ‘n Martha, ‘n Maria, ‘n Ester of ‘n Rut wees?

Ek sluit af met die lied: We believe in tomorrow. Hy sing van one lifetime, joy, and no sorrows en van every day is a blessing.

Gryp die dag, gryp die geleentheid en bou aan ‘n volhoubare organisasie waarop ons baie trots is.