Sirkel: Weskus
Beriggewer: Estelle du Plessis
Datum: 2 Maart 2022
Tydens die Sirkelkonferensie van Sirkel Weskus wat op 2 Maart 2022 op Leipoldtville gehou is, is mev Elsabe Carstens as die nuwe Sirkelpresident verkies in die plek van Mev Estelle du Plessis
ELSABE CARSTENS
Ek bly in die hartjie van die Sandveld, ongeveer 23 km vanaf Leipoldtville, op die plaas Bo-langvlei. Ek en my man het sowat 30 jaar gelede verhuis vanaf die Swartland na die Sandveld.
Ons het drie pragtige kinders, ons oudste seun boer saam met ons op die plaas en my dogter wat fotografie gestudeer het, werk tans by Orms in Bellville se laboratoriumafdeling. Ons jongste seun het ons 8 jaar gelede, op 23 jarige ouderdom, vooruitgegaan in ‘n motorongeluk. Ek is bevoorreg om drie kleinkinders te kan hê en is geseën met ‘n wonderlike skoondogter hier op die plaas en skoonseun in die Kaap.
Ek het 20 jaar gelede by Leipoldtville se VLV aangesluit, nadat ek baie keer genooi is en is nou reeds 15 jaar Voorsitter. Moet dus nooit moed opgee om iemand te nooi na ‘n VLV vergadering nie.
Ek was ook bevoorreg om vir 5 jaar Sekretaris van Sirkel Weskus te wees en baie nou saam met ons Sirkelpresient, mev. Estelle du Plessis te kon werk, ‘n beter leermeester kon ek nie kry nie.
VLV lê my baie na aan die hart, omdat die organisasie uitreik na ander en al die projekte is omgee-projekte wat ons almal sò nodig het in vandag se lewe. Deur om te gee en te ondersteun, maak van jou net ‘n beter mens.
My moeder glo, jy moet besig bly en haar voorbeeld inspireer my. Op 84 jarige ouderdom is sy nog steeds werksaam by Pulpit Rock wynkelder, op my pragtige geboorte dorp, Riebeek-Wes.
Mag VLV net van krag tot krag gaan en mag Sirkel Weskus onder my leiding steeds groei tot hoër hoogtes, soos onder leiding van my voorganger, Mev. Estelle du Plessis.
Alle eer aan ons Hemelse Vader aan wie ek elke dag vashou.
Leave A Comment