Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Studierigting: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Letty-Ann Möller
Datum: 1 Maart 2022
OPVOEDING & KULTUUR – die sprekers, Joanie Pretorius ,Opvoedkundige Sielkundige en die Onderwyseres, Marie van Zyl, deel interessante feite oor Marokko en Sirië en die intellektuele meriete van veeltaligheid.
Ons kyk ook uit ‘n nuwe invalshoek na Opvoedkundige speelgoed en na Arbeidsterapie. (Arbeidsterapeut: Me Stuart).
Beoordelaars, Irene Groenewald, Marie Spamer, Ronel Swart en Lynette Bester, met die hulp van Rosemarie Maytham, het die verantwoordelike keuses t.o.v Konferensie items met groot toewyding afgehandel.
‘n Goeie bedrag geld is ook ingevorder vir die ACWW. ( Wêreldbond van Plattelandse Vroue – WBPV).
Foto v.l.n.r. Marie van Zyl en Joanie Pretorius
Insette deur die twee gassprekers by die vergadering.
Joanie Pretorius:
Marrakech en Frans, wat het dit met ons te doen?
In 2019 het ek afgekom op ‘n versoek van Wissam Bakiz op Facebook. Hy wou hulp hê met sy Engelse uitspraak in ruil vir hulp met Frans.
‘n Jong Arabier, besig met sy meestersgraad in’n finansiële rigting, begin toe sy werkstukke vir my voorlees in Engels en in Frans. Dit alles by wyse van Zoom op die rekenaar. Ons het beurte gemaak om te lees en om mekaar te korrigeer.
Tussendeur het ons gesels oor ons verskillende kulture en foto’s uitgeruil op WhatsApp. Wissam se moedertaal is Arabies, maar in Marrakech leer hulle Frans as tweede taal op skool. Hy kan ook Spaans vlot praat, want Spanje is ’n klipgooi van Marokko af, ‘n uur se reis per boot daarvandaan.
Die kykie in sy lewe was baie verrykend. Hy, sy getroude broer en suster met hulle gesinne en die ander drie broers van hom woon almal saam met sy ouers onder een dak. Elkeen het hulle deel van die huis, maar hulle eet saam en Wissam help sy susterskinders met hulle wiskunde-huiswerk.
Hy bid gereeld, stort elke keer voordat hy bid of Vrydae na die moskee toe gaan en gaan moskee toe in sy kaftan en hoofbedekking. Hy sê die mans dra tulbande om hulle koppe teen die hitte te beskerm.
Hulle word toegelaat om met tot vier vroue te trou, mits hulle aan elke vrou genoeg aandag kan gee. Die vroue dra Westerse drag in hulle huis, maar bedek hulleself van kop tot toon as hulle op straat verskyn.
Wissam slaap op ‘n matras op die vloer en met ‘n rykversierde groot kussing onder sy kop. Bedags word die matras teen die muur staangemaak ter wille van spasie in sy kamer. Hy eet hoofsaaklik koeskoes met ‘n groot porsie opgekookte groente bo-op en hy is mal oor sy “sweet tea”. Vis, brood en water is ook stapelvoedsel en dan ook hoofsaaklik skaapvleis, alles met ‘n verskeidenheid van kruie en speserye en natuurlik die supersoet lekkernye.
Sy maniere laat soms veel te wense oor. Suid-Afrika is een uur voor Marrakech, maar ongeag die bevestiging van die regte tydgleuf van ons gesprek, is hy nie altyd stiptelik op die lug nie. Ek het al vir hom gesê dat hy kan vergeet om eendag ‘n “manager” te word, want hy moet stiptelik kan wees as hy so ‘n verantwoordelike pos wil beklee!
Hy het ook sommer eenkeer in die middel van ‘n gesprek sy rug op my gekeer en lank met sy broer wat by die deur was, gesels. Tóé moes julle hoor hoe vlot ek Frans kan praat! Ek het net vir hom gesê dat as hy met’n vrou van Europese afkoms wil praat, hy my sal moet behandel asof ek ‘n gerespekteerde man is. Ek was woedend en Wissam…sy mond het behoorlik oopgehang. HY het sy les geleer.
Maar wat het dit met Opvoeding te doen en met ons, wat nie meer kinders is nie? Baie. C.J.Langenhoven het gesê: “ Soveel tale as ek kan, soveel male is ek man.” Daarby impliseer hy dat tale jou toerus om ‘n beter potensiaal te kan bereik. Dit is inderdaad so, jy word blootgestel aan media in ander tale as jou moedertaal en dit verbreed jou ervaringswêreld.
Verder het navorsing bewys dat mense wat tweetalig is eers 4 jaar later met dementia gediagnoseer is as eentaliges en dat hulle brein stadiger agteruitgaan(Ellen Bialystok, Kanadese sielkundige, 2007). Die feite is in 2011 bevestig met ‘n studie in Indië en ook weer in 2018 in Wallis deur ‘n span wetenskaplikes van Cambridge. Wendy Ayres-Bennett het gesê geen medisyne gee vir jou 4 jaar se uitstel van dementia nie. Meertaligheid is nie net voordelig vir die ontwikkeling van daardie deel van die brein wat jou leer om beter te leer en beter te onthou nie, dit kan jou ook help om jou brein fikser te hou as jy oud word. Die konsentrasie van tweetaliges is aansienlik beter as dié van mense wat net een taal kan praat en hulle herstel ook vinniger na ‘n beroerte.
Navorsing toon dat kinders wat meertalig is hoër kognitiewe funksies kan uitvoer. Hulle logiese redenering is beter as dié van monotaliges, Watter groter bydrae kan jy tot die kind se opvoeding maak as om hom toe te rus om beter te kan leer, beter te kan onthou, hoër breinvaardighede te bemeester en begrip en insig te kan toon in diegene wat van hom verskil?
Hou aan om met die kinders in jou moedertaal te praat as hulle blootgetsel is aan ‘n ander taal. So leer hulle elke taal in die regte idioom aan. Ek het eendag ‘n artikel van ‘n spraakterapeut gelees waarin sy sê dat ‘n kind iemand se taal in dieselfde lig sien as sy geslag, haarkleur en die kleur van sy oë. Kinders wat ‘n verskeidenheid van tale van jongs af hoor, praat gewoonlik eers later as die ander kinders korrek, maar op die ou einde kan hulle al die tale waaraan hulle van kleins af blootgestel was deur
moedertaalsprekers ewe vlot praat.
Mandela het gesê:” If you talk to a man in a language he understands, that goes to his head. If you talk to him in his language, that goes to his heart.”
Marie van Zyl:
Die waarde van Taal in ‘n vreemde land
As jy die dag in ‘n vreemde land beland waarvan die kultuur, taal, godsdiens, mense, strate, kosse, als vreemd is dan weet jy jy staan voor ‘n groot uitdaging. Ek staan in Reguitstraat, Damskus, Sirië. As klein dogtertjie van 6 jaar oud, leer jy in die Sondagskool van Bethlehem, Nasaret, Jerusalem, Israel, Egipte en al die Bybelse lande. Op daardie ouderdom klink dit vir jou baie ver en soms het ek geglo dat dit nie meer bestaan nie, want dis darem te lank gelede. Ek het nooit kon dink dat ek Paulus, Judas en Ananias se stad sou besoek nie.
Dasmaskus is die oudste deurlopende stad in die wêreld. Die ou stad het 7 hekke (ingange) en is ook as ‘n Unesco Wêreld Erfinisgebied verklaar.
Een van die hekke is vernoem na Paulus (so is dit aan my oorgedra) en dit is daar waar Paulus oor die muur in ‘n mandjie laat sak is om te ontsnap. As ‘n mens inkom by die Paulushek dan is jy in Reguitstraat. Judas het in Reguitstraat gewoon en dit is waarheen Paulus (nadat die skille van sy oë afgeval het) in opdrag van die Here, moes gaan. Ananias, wat aan die oostekant van Reguistraat gewoon het, moes vir Paulus daar gaan ontmoet.
Een van die oudste Christenkerke is die Kerk van Ananias. Dit was eers sy huis, maar is later omskep in ‘n kerk. Dit is ook in hierdie kerk waar Paulus gedoop is. Die kerk is nie meer sigbaar van die straat af nie. Deur al die oorloë, het mense net die rommel gelyk gemaak en weer daarop gebou. Maar die Kerk van Ananias het behoue gebly. Deesdae gaan ‘n mens met trappies af om in die kerkgebou te kom. Dis ‘n pragtige klein kerkie van klip en pragtige hout kerkbanke. Dit is ook blykbaar nog in gebruik.
Na die besoek aan die kerk en al die winkeltjies, ens. in Reguitstraat, het ek glad nie meer so vreemd gevoel nie, daar was tog iets waarmee ek kon identifiseer! Maar die taal was ‘n groot probleem. Arabies is die hooftaal met Engels en Frans heel laaste op die lys van tale.
Ek het baie gou besef dat ek die taal moes begin aanleer, al kon ek darem net die belangrikste woorde leer om oor die weg te kom. Die heel eerste woorde wat ek in Arabies geleer het, was die geldeenheid en hoe dit werk. Ek wou darem net weet hoeveel die goed daar kos. Die kos is baie bekostigbaar en die mense eet ook baie gesond (hul eet baie groente en maak dit baie verskillend as ons gaar). Die volgende paar woorde was die rigting, die groet en wat ‘n skool in Arabies is.
Die ou Damaskus is opgedeel in souks (suqs) waar jy als moet soek wat jy nodig het. Jy kry ‘n goud souk, ‘n spesery souk, ‘n materiaal souk, ‘n seep souk, ens. So gebeur dit toe dat ek eendag kremetart benodig; hoekom en waarom weet ek tot vandag toe nie. Ek is toe na die spesery souk. Nadat ek nou al by heelwat speserywinkeltjies gevra het, beland ek toe by so ‘n baie klein winkeltjie, dis eintlik net ‘n gangetjie en daar is net plek vir een persoon. Ek vra toe in my beste Engels en my beste gebaretaal vir “Cream of Tartar”. Sodra hul die woord “cream” hoor dan verwys hul jou na ‘n ander winkel. Die man probeer toe in Arabies vir my verduidelik waar ek “cream” kan kry toe sê ek maar vir hom in Afrikaans: “Baie dankie, maar ek dink nie ek gaan hier regkom met kremetart nie”.
Net toe ek by dié winkeltjie se deur uitstap, sê ‘n vrou vir my in Afrikaans: “Ek sien jy sukkel met die taal”. Ek juig, want hier, in ou Damaskus, is voorwaar iemand wat Afrikaans kan praat. Sy sê toe dat sy baie haastig is, maar as ek belangstel dan kan ons die aand na die Kerssangdiens gaan en daarna kan die kinders gaan hokkie speel. Sy krabbel toe baie vinnig haar telefoonnomeer op ‘n stukkie papier en sê dat ek haar moet skakel vir al die aanwysings en tye. En daar gaan ‘n hele nuwe wêreld vir my oop. Ek ontmoet toe baie mense diê aand by die kerk en ons praat heerlik Engels.
Die paar Arabiese woorde wat ek intussen baasgeraak het, het my toe baie handig te pas gekom. Ek moes eendag na ‘n vriendin se huis gaan. Die taxibestuurder kon net Arabies praat. Met net 3 Arabiese woorde, het hy my tot by my vriendin se huis geneem.
En so bring die taal vreemdes bymekaar in ‘n vreemde land.
Baie dankie,Marlene, vir hierdie breedvoerige plasing.