Sirkel: Paarl
Tak: Slot van die Paarl
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Annalise Loubser
Datum: 1 Maart 2022
Die tak was bevoorreg om meer van die onderwerp OUTISME te leer by ’n mamma van ’n seun wat op die outismespektrum is, nl Lara Kirsten en by die skoolhoof van Boland Outismeskool, Ingrid du Toit.
Sannelize Schreuder, Hetta Kirsten, Lara Kirsten, Ingrid du Toit, Aletta Keyser
As jy een persoon met outisme gesien het, dan het jy een persoon met outisme gesien; elkeen verskil. Hierdie mamma het baie idees en drome gehad, maar God het ander planne gehad. Hulle het vroeg na sy eerste jaar agtergekom dat sy ontwikkeling anders is as ander kinders. Hy het erg refluks gehad en was kronies op medikasie onder andere. ’n Pediatriese neuroloog is volgens haar die beste persoon om te besoek vir ’n diagnose. ’n Outistiese kind het baie terapie nodig. Die grendeltyd tydens Covit19 het ’n erge effek op hom gehad, want sy roetine is versteur en dit het gelei tot depressie en hy’s net 9 jaar oud. Depressie is ’n algemene simptoom, want dit is moeilik vir hulle om hulself uit te druk. Noudat hy in Boland Skool vir outisme is, is hy ’n gelukkige kind, want hy kommunikeer nou ook baie beter as vorige jare en dis te danke aan mense wat weet hoe om met so ’n kind te werk.
Die effek op die ouers is baie groter, want hulle het meer geduld en meer empatie, onder andere, nodig en dis alles gegrond in hul geloof in God aan wie hulle hul kind toevertrou. Die skool het agtergekom dat hy baie musikaal is en hul fokus nou daarop om sy ander vakke deur musiek aan hom te bring en hulle kom dit meeste van die tyd nie eers agter nie.
Die ander kinders in die gesin het ook baie vrae wanneer hulle hul gesinslede met maatjies se gesinslede vergelyk. Dit moet ook deur die ouers bestuur word om almal gelukkig te hou.
Die Boland Outismeskool se finansies is ook deur die grendeltyd erg geraak. Een of albei ouers het hulle werk verloor en dan kon hulle nie skoolfonds betaal nie. Die skool kry geen fondse van die staat nie en is selfonderhoudend. Hulle moet self aanhou, uithou en nooit ophou nie. Hulle reël verskeie fondsinsameling gedurende die jaar en vertrou op borge en besighede om hul te ondersteun.
Die skool is al 10 jaar oud. Hoe jonger die kinders na hierdie skool toe kom, hoe beter. Hulle hoofdoel is om ’n plek te skep waar die kinders veilig voel. Hulle fokus op lewenstyl en nie soseer skoolwerk nie. Die vraag “Wat is die regte optrede daarbuite?” is belangrik. Die skool probeer die lewe daar buite inbring in die skool bv ’n haarkapper, tandarts en vele meer; dis meer belangrik as die ABC. Fokus op die positiewe en nie wat die kind verkeerd doen nie. Hierdie kinders hoor dubbeld wat ons hoor, veral díe wat gehoorsensitief is. Gebruik kort sinne wanneer jy opdragte wil gee.
Ons moet ons kinders in ons huise leer om uit te reik na kinders wat “anders” as ons is. Ons het behoorlik aan die twee persone se lippe gehang om meer te leer. Die takprojek vir 2022 is om hulpmiddele vir persone met spesiale behoeftes in te samel. Tydens hierdie vergadering is daar toe hope goed vir Boland Outisme Skool ingesamel en ons vertrou dat dit hulle in hul groot taak so ‘n klein bietjie kan help.
Leave A Comment