Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Portefeulje: Kunste En Handvlyt
Datum: 9 Februarie 2022
Beriggewer: Theresa Troskie

Adri Krüger, sameroeper van Kunste en Handvlyt, Murraysburg vertel van die nuwe Suid-Afrikaanse musiek wat sy gereeld by die Hoërskool Murraysburg, waar sy ’n onderwyseres is, by die leerders hoor. Haar interessante bespreking van die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse musiek deur die eeue vanaf die 1600’s tot nou, sluit die volgende enkele interessanthede in:

• Tydens die jare 1600 het Suid-Afrikaanse inboorlinge Westerse musiekinstrumente en idees aangeneem en vermeng met hul eie. So het die Khoi die ramkie, ’n kitaar met 3 of 4 snare geskep en Westerse en Khoi volksliedjies is vermeng.
• 1800’s: In die styl van die Britse Militêre Marsorkeste het kleurvolle groepe (verskillende bevolkingsgroepe) musikante deur die strate van Kaapstad begin paradeer en musiekmaak. Hierdie tradisie vind steeds vandag in Kaapstad plaas in die vorm van die Alabama’s.
• Gedurende hierdie tyd het sendelinge ook die binneland ingetrek en komponiste soos John Knox Bokwe het begin om gesange te komponeer met tradisionele Xhosa klanke.
• 1900’s: Enoch Sontonga, toe ’n onderwyser, komponeer Nkosi Sikelel’ iAfrika (God Bless Africa). Die Marabi-musiekstyl ontwikkel in plakkerskampe. Marabi is op klaviere gespeel en begelei met blikkies gevul met skulpies.
• S.A. musiek verwerf nasionale bekendheid met die skepping van Kwela (of in Zulu “get up”) musiek. In Township-slang het dit ook verwys na polisiewaens – “kwela-kwela”!
• Dit was ook nou die geboorte van mbaqanga, ’n tipe Afrika jazz musiek. Die sangers Miriam Makeba , Dolly Rathebe en Letta Mbula het groot aanhang en bekendheid verkry. Baie sangers van African Jazz, het oorsee bekendheid verwerf.
• 1962: die regering het Radio Bantoe die lig laat sien. Hulle wou onafhanklikheid en onafhanklike ontwikkeling hiermee aanmoedig, deur Zulu volksmusiek en liedere te speel, maar gou het dit ’n forum geword vir aanvalle op die regering van die dag.
• 1970’s: Die boy band Rabbit tref S.A. met ’n slag! Hulle poseer naak op hul tweede album A Croak and a Grunt in the Night! Konsternasie!
• 1973: Die eerste goue plaat vir swart musikante! Ladysmith Black Mambazo kry goud vir hul album Amabutho.
• 1980’s: Johnny Clegg, oorsee bekend as the white Zulu, kenner van Zulu en die Zulu kultuur, vorm die groep Juluka.
• Reggae – Lucky Dube. Yvonne Chaka Chaka – I’m in love with a DJ. Was the first hit for bubblegum music.
• 1985 Township Pop – Brenda Fassie

Sedert 1994 en die val van apartheid, is die S.A. musiektoneel bevry en nuwe musiekstyle verskyn op die toneel. Hip-hop ook bekend as kwaito was gou op die voorgrond. Elektroniese instrumente en sintetiseerders vorm ’n integrale deel in die maak van musiek.

Adri Krüger speel uittreksels van die verskillende musiekgenres voor. Lede neem spontaan deel en deel hul eie gedagtes oor musiek. Dit word ’n lekker interaktiewe byeenkoms!