Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Ada Gericke/Alta Landman
Datum: 28 Januarie 2022
VLV Voëlvlei “stap” die Camino
“Buen Camino”: dit is hoe oorsese pelgrims mekaar groet. Hier in Suid-Afrika sê ons sommer: kom ons stap.
‘n Camino is ‘n staptog vir verskeie redes, of geen rede. Dit is ‘n reis van die voete, kop, hart en siel. Mens kan jouself nie vind op ‘n Camino nie, want jy moet reeds weet wie jy is voordat jy begin stap! Maar jy leer jouself verseker beter ken na 300km in 14 dae!
Ek was bevoorreg om die twee Pelgrimstogte van Hoop in Suid-Afrika te kon stap. Die eerste was van Stellenbosch na Agulhas, en die tweede vanaf Uniondale tot in Mosselbaai. Alles op so ‘n stap is verrykend, die swaarkry, die mense en diere langs die pad, die natuur, die kos, die seer voete, die sonsopkomste en sonsondergange, en die gemeensaamheid van mede-stappers. So ‘n Camino of staptog is n pragtige analogie vir ons almal se daaglikse lewensreis: mooi paaie en lelike paaie, op- en afdraendes, swaarkry en lekkerkry, voorspoed en teespoed. En albei het ‘n ‘n eindbestemming waarna mens uitsien.
Alta is ‘n gerekende avonturier en het die dames met haar fotovertoning en interessante vertellings saamgeneem op ‘n toer deur een van die mooiste dele van die wêreld. Volgens haar ís elke mens van geboorte af besig met ‘n Camino, want die Camino is ‘n metafoor vir die mens se lewensreis op soek na, onder andere, vergifnis en sin in die lewe.
Anders as gedurende ‘n motorrit, word die stapper bewus van groot en klein dinge langs die pad. Op die pelgrimstog tussen Stellenbosch en Agulhas, word van die mooiste kerke, parke, standbeelde, graftes, museums, monumente, natuurskoon en die goedheid van mense langs die pad ‘n bewuste ervaring.
Plekke wat aangedoen is op hierdie pelgrimstog is, onder andere, Stellenbosch, Franschhoek, Pniel, Genadendal, Villiersdorp, die Hemel-en-Aarde -vallei, Gansbaai, Hermanus en Elim.
Die Pelgrimstog van Hoop tussen Uniondale en Mosselbaai is ook kortliks bekendgestel en almal is aangemoedig om meer van die pragtige plekke op die pad te besoek, al is dit net vir daguitstappies per voertuig.
Insette deur bestuurslede is gedoen en die belangrikheid van ons taal is beklemtoon deur die verwysing na die geskiedenis van Die Afrikaanse Patriot, eerste Afrikaanse koerant en die WAT se ‘Borg ‘n Woord’-projek. Twee gedigte uit ‘n pragtige digbundel, Journey into Africa, deur Christian Müller, uitgegee in sy matriekjaar, is voorgelees.
Openbare Sake het die vryheid van spraak in Afrika aangespreek.
Artikels vir die kompetisies vir die vergadering was ‘n marmerkoek, suurlemoen-stroop en ‘n gehekelde rugsak.
Na die lang ‘Camino-pelgrimstog’ was almal dors ‘gestap’ en is die tee en verversings terdeë geniet.
Vlnr – Annamarie Mostert, ds Gert Notnagel (wat alles begin het), Adelle Harmse (groepleier en stapgeneraal by uitstek), Alta Landman
Pelgrimstog Roete-aanwyser (Agulhas Vuurtoring)
Ou klipkerk in Mosselbaai met moderne kerk langsaan
Net ‘n VLV-vrou sal diѐ foto verstaan – vlnr – Alta, Annamarie en Adelle
Agulhas Vuurtoring
Gelukspakkie geskenk
Leave A Comment