Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Studierigting: Leefstyl
Beriggewer: Letty-Ann Möller
27 Januarie 2022

Historiese agtergrond:
Haar jong buurvroutjie het op die trappie van haar voorstoep in die son gesit en…SOKKIES BREI. Hoekom nie ook probeer nie?
Maar buurvroutjie brei “uit haar kop uit”! Al genade was sy moes die sokkiepatroon neerskryf- wat sy toe ook gedoen het- maar g’n mens kon die patroon volg nie. Die patroon is deurgewerk en oorgeskryf en die amigurumi-groepie van Bredasdorp is besig om die soveelste paar bont sokkies te brei. Die brei met vier breipenne is ‘n geweldige aanpassing, maar die kleurvolle, kwaliteit Duitse sokkiewol is so duur dat elkeen moedig deurdruk.

SOKKIEPATROON
Benodig 4 ooppuntbreipenne (2.75mm of 3mm)
1 bol sokkiewol (4-draad 100g)
Hekelnaald
Stopnaald
STAP 1
– sit 64 steke op 1 breipen
– haal 20 steke aan linkerkant af op 2e pen
– haal 24 steke af aan regterkant op 3e pen
(die 20 steke in die middel bly agter op die 1ste pen)
STAP 2
– Brei ribsteek (2 regs, 2 aweregs) op elke pen al in die rondte tot ‘n lengte van 7 cm
– Brei verder in ribsteek (3 regs, 1 aweregs) vir die volgende 12 cm
(totale lengte is 20 cm)
STAP 3 (hak se flappie wat uiteindelik slegs op een breipen gebrei word)
-Begin by die 1ste pen (20 steke) brei alles regs
-Brei nou 12 steke van die 2de pen regs op die 1ste (Daar is nou 32 steke op die 1ste pen)
(Daar bly net 8 steke op 2de pen oor. Steek dit deur haakspeld want dit word eers in STAP 5 weer verder gebrei)
-Begin aan die binnekant brei…
-Brei slegs met die 1ste PEN met die 32 steke op verder: (herhaling van slip1, brei 1 aweregs tot aan die einde van die 32 steke)
-Volgende ry, brei regs dwarsdeur die 32 steke
HERHAAL totdat jy 16 rye aweregs gebrei het (wissel rye met glipsteek en regs rye af. Dit is in totaal 32 rye) en stop aan die binnekant.
STAP 4 (enkelgedeelte wat aan die hak se flap gebrei word, steeds slegs op die 1ste pen met die 32 steke)
-Brei 20 steke aweregs, slip 1, brei 1 aweregs, trek glipsteek oor die gebreide steek en brei nog 1 steek.
-DRAAI
-Brei 10 steke regs, brei 1 regs, slip 1, brei 1 regs, trek glipsteek oor die gebreide steek en brei nog 1 steek.
-DRAAI
* Brei tot by die glipsteek (12 steke)
– slip 1, brei 1, trek glipsteek oor en brei 1
-DRAAI en gaan voort vanaf * tot daar slegs 24 steke op die 1 pen oorbly.
STAP 5 (die 16steke weerskante van die hakflap word om die beurt opgetel met ‘n hekelpen en op die breipenne geskuif voordat jy verder brei)
-tel 16 steke op aan die kant van die hak waar die 8 steke van 2 is(tel met ‘n hekelpen op en sit dra dit oor op 1 pen)
-sit dan die 8 steke op die 3de breinpen met die 24 steke (dan is daar nou 32 steke op)
-brei 3 regs, 1 aweregs tot aan die einde van die ry (die voetbrug)
– tel 16 steke op aan die anderkant van die hak op (tel met ‘n hekelpen op en sit dra dit oor op 1 breipen)
-brei 12 van die hak se steke op die met die 16 steke (totaal: 28 steke)
-! Sit 12 steke op die ander (totaal ook: 28 steke)
DUS HET JY NOU 32 STEKE OP DIE 3de BREIPEN(DIE VOETBRUG) EN 28 STEKE OP DIE 1ste EN DIE 2de (die twee hakgedeeltes wat later die sool van die sokkie gaan raak)
STAP 5 (vermindering van steke op die breipenne 1, 2 en 3 word slegs aan die gedeeltes waar die brug en die eindpunte van penne 1 en 2 naaste aan die brug is gedoen)
-begin by ! (dit is in die middel van die hak)
-1ste pen: brei regs tot voor die laaste 3 steke en brei 2 tesame, brei laaste steek (end van die ry)
-2de pen: brei 1, slip 1, brei 1, trek glipsteek oor en brei tot einde
-3de pen: (BRUG) bly deurgaans 3 steke regs, 1 steek aweregs (konstant 32 steke)
VERMINDER AL OM DIE ANDER RY TOT DAAR 16 steke op pen een, 16 steke op pen twee en 32 steke op pen drie oorbly.
NB Brei tot die lengte van die sokkie moet wees.
STAP 6 (Toon)
-BEGIN BY DIE BRUG (32 steke) . : brei 1, slip 1, trek glipsteek oor en brei regs tot voor die laaste 3 steke en brei 2 tesame, brei laaste steek (end van die ry)
-1ste pen: brei regs tot voor die laaste 3 steke en brei 2 tesame, brei laaste steek (end van die ry)
-2de pen: brei 1, slip 1, trek glipsteek oor en brei tot einde
-3de pen(BRUG): brei 1, slip 1, trek glipsteek oor en brei regs tot voor die laaste 3 steke en brei 2 tesame, brei laaste steek (end van die ry)
-brei 2 rye regs en herhaal totdat slegs 16, 8, 8 steke na herhaalde vermindering oor is
STAP 7 (Werk sokkie toe)
-daar is nou 16 steke op die brug
-tel die 8 steke van breipen 2 op breipen1 (nou is daar 16 steke op 1ste breipen)
SLEGS 2 BREIPENNE MET 16 STEKE BLY OOR. (Nou kan die sokkie met ‘n borduur-of stopnaald toegewerk word)
-sit woldraad in stopnaald
-slip 1ste steek regs af en trek dit af van die naald
-slip die agterste steek aweregs af
-voorste steek aweregs, dan agterste steek aweregs en trek agterste steek af
– agterste steek regs en dan voorste steek regs en trek voorste steek af
HERHAAL LAASTE TWEE TOTDAT DIE TOON TOE IS
[NOTA: Alternatief vir STAP 7: Volg die instruksies van die Kitchener-metode op YouTube]
Terloops, Kitchener steek is na die Britse militêre offisier, Horatio Herbert Kitchener vernoem, omdat hy daarop aangedring het dat die soldate se sokkies soomloos moet wees
om hulle voete te beskerm.
NOTA: DAAR SAL SOKKIEWOL BY ONS STALLETJIE BY DIE KONFERENSIE VAN 2022 OP GANSBAAI VERKOOP WORD.