Sirkel: Overberg
Tak: Kleinmond
Portefeulje: Openbare Sake
Datum: 25 Januarie 2022
Beriggewer: Hermien Van Zyl
Met die VLVK-tema, Leef Volhoubaar, voorop in hulle gedagtes en die verwoestende brande wat onlangs feitlik alle fynbos rondom Kleinmond uitgewis het, het die VLV-bestuur besluit dat daar met die eerste vergadering daaroor gepraat moet word.
Gustav Erlank, voorsitter van die Rampbestuurskomitee het die werksaamhede van die komitee kom verduidelik, hoe alle rolspelers se bydraes tydens ‘n ramptoestand gekoördineer word en watter rol elkeen soos verkeersdienste, munisipaliteit, voedselvoorsieners, mediese dienste, brandweer, die polisie, ens speel. Hy het verduidelik hoe ontruiming werk, watter faktore alles in ag geneem moet word: vervoer, toegang, huisvesting, mediese sorg as dit pasiënte is en die verspreiding van inligting. Hy raai die lede aan om vooraf te besin oor watter dokumente en kosbaarhede gered moet word.
Hy is bygestaan deur Deon Brits van die Kleinmond Community Facebookblad wat die rol van sosiale media gedurende ‘n ramp geskets het. Inligting word per selfoon versprei en ALLE persone moet sorg dat hulle selfoongeletterd is. Hulle moet hierdie medium verantwoordelik gebruik en nie vals inligting die wêreld instuur nie.
Thinus Ries, afgetrede sangonderwyser en koorleier, was die gaskunstenaar vir die middag en het die dames se voete onder hulle uitgeslaan met ‘n passievolle klavierkeurspel uit “The Sound of Music” en ‘n ewe treffende sangvertolking van “Oh what a beautiful morning” uit Oklahoma. Ryno Posthumus het hom begelei. Daarna sing die dames lustig saam met hom Al lê die berge nog so blou en die Heidelied.
Voorsitter Louise Bruwer saam met die gasspreker Gustav Erlank
Vuur het gevaarlik naby aan die woonbuurt gekom.
Die swartgebrande berge rondom Kleinmond
Die gaskunstenaar, Thinus Ries voor die klavier met Ryno Posthumus staande
Alice van Rooyen het die gaskunstenaar Thinus Ries (links) en sy begeleier Ryno Posthumus, bedank en geskenke aan hulle oorhandig.
Ria Coetzee by die pragtige rangskikking van krismisrose.
Jenna Hanekom (links) nuwe lid wat aangesluit het, staan hier by Reinette van Niekerk
Leave A Comment