Sirkel: Paarl
Tak: Wellington
Portefuelje: Kunste en Handvly en Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Karen Barnard
Datum: 25 November 2021
VLV Wellington sluit hulle jaar af op ‘n vars en inspirerende noot.
Ananda van Heerden, Voedingkundige van Stellenbosch kom deel met ons haar passie vir ‘n vars en gesonde alternatief in die vorm van microgreens. Microgreens is volgens haar ‘n voedingsbom en superkos. Dit bevat baie anti-oksidante wat ons gesond hou en is tot 40 keer gesonder as ouer plante en volwasse blaargroentes. Mikrogreens is jong blaargroentes wat geëet word wanneer die plant nog baie jonk en klein is. Die voordele is: Lekkerder smaak, sagter tekstuur, dit lyk baie mooi, bevat al die nutriënte wat ons nodig het en die grootste voordeel is dit groei sommer in jou vensterbank.
New Life Microgreens bemark verskeie groente se sade bv. Pea shoots, Radys, Sonneblom en Broccoli. ‘n Demonstrasie het die dames gewys hoe vinnig en maklik dit is. Die sade, houer en kokosneut kompos kom saam en die plantjies sal binne 10-14 dae gereed wees vir oes en eet. Belangrik om dit nat te spuit. Die blare kan gesny en vir ‘n paar dae in die yskas geberg word. Die microgreens smaak die beste vars en het baie meer geur as die ouer groentes. Voorwaar ‘n vinnige, maklike en gesonder opsie as die tradisionele blaarslaai en broccoli-kop.
Stefan Sonnekus, bekende lid van die Voetspore span het ook kom inloer en wenke kom gee hoe om deure af te neem. Deure kom in baie gestaltes en dit gee jou ‘n kykie na wat moontlik agter of binne dit kan lê.
• Beligting en Perspektief is belangrik wanneer ons deure wil afneem.
• Beligting hang baie af van wat jy wil beklemtoon of uitlig in die foto. Die uitkoms sal baie afhang of die foto van binne na buite of buite na binne geneem word.
• Van binne na buite sal die binnekant baie donker wees, amper ‘n silhoeët en baie lig buite. As jy die flits van die kamera aansit sal bietjie meer detail van die binnekant sigbaar wees.
• ‘n Foto van buite na binne sal die binnekant meer donker laat vertoon. As ‘n lig binne aangeskakel is sal dit meer detail van binne verklap.
• Perspektief van lyn word verkry deur die posisie van die kamera. Hoe naby of hoe ver jy van die deur af is. Die grootte en hoogte van die deur bepaal hoe jy die deur sal afneem. Die detail wat jy wil probeer vasvang sal ook bepaal hoe jy dit neem. By ‘n baie lae deur sal jy die kamera op die vloer hou. Die effense oopmaak van die deur sal die oog lei na binne. ‘n Deurloop van deure sal die perspektief van ‘n gang gee en die oog lei na die agterste deur.
• ‘n Goeie wenk is om ‘n kreatiewe item tot die foto by te voeg. Dit is byvoorbeeld ‘n persoon wat dalk verbyloop of iemand wat op ‘n trappie sit voor ‘n deur.
Die dames van ons tak het ook kom spog met al hulle handgemaakte items wat te koop of net uitgestal is.
Twee Dogters van Laerskool Noord-Eind het vir ons kom fluit speel.
Die oggend is op ‘n feestelike en gesellige manier afgesluit.
Leave A Comment