Sirkel: Paarl
Tak: Strand
Verjaardag
Beriggewer: Erna de Waal
Datum: 16 November 2021

STRAND TAK WORD 90!

“VLV Strand is gesond, gemotiveerd, gelouter en heel hups.” So lui die Distrikspos se opskrif.

Op ‘n pragtige sonnige, windlose somersoggend het Strand Tak hul 90ste verjaardag kom vier. Van vroeg af was daar ‘n afwagtende, opgewonde atmosfeer. Die pandemie en gepaardgaande inperkings is vir nou op die agtergrond geskuif. Ons wil fees vier! Die saal met sy outentieke versierings en uitstallings het mens ‘n kykie gegee in die jare baie lank gelede met die boodskap: Bewaar ons Erfenis. Van Voortrekker rok en kappie; tot ou dae se kombuis gereedskap; tot Oupa se skoenlees en Ouma se waskom. Aan oudhede was hier geen tekort nie.

Leta du Preez, Voorsitter van Strand Tak, het almal hartlik verwelkom, veral die genooide gaste wat regtig moeite gedoen het om hier te wees. Ons kan almal met haar saamstem: “Om 90 te word is ‘n groot mylpaal. Ons is trots”. Maretha Badenhorst, erelid en reeds 32 VLV lid, het in haar opening uit Psalm 16:6 gelees: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval.” Ons erfenis is vir ons mooi. Erfenis is iets wat jy ontvang waarvoor jy nie gewerk het nie, dis gratis en verniet. Ons moet dankbaar wees daarvoor en dit bewaar en aangee na hulle wat ná ons kom. Sy stuur ons huis toe met dié boodskap: Die VLV laat jou altyd ryker huis toe gaan en laat mens altyd gekoester voel by vriendinne. Sy haal aan: “Vriendskap is soos ‘n lappieskombers. Almal verskil maar tog is ons vasgewerk aan mekaar met dieselfde draad van liefde, trane, hartseer, pyn, blydskap en geloof”. Sy stel ‘n heildronk in op Strand Tak se 90 ste verjaardag, waarna glasies sjerrie vrolik geklink word.

Marinda Rall, Sirkel President Paarl, wens Strand Tak hartlik geluk namens die Sirkel met die wens dat hulle in die toekoms net soveel vreugde by hul Tak sal ondervind soos in die verlede.

Die modeparade het groot byval gevind. Daar was ‘n trourok van 1935; ‘n Voortrekkerrok wat by die monument se inwyding gedra is in 1945; ‘n kamerjas van 70 jaar oud; ‘n jakkalspels en verweelrok vir ‘n deftige afspraak by die Bielie Mielie fees in Reitz in 1947; ‘n swembroek uit die vyftiger jare; een van die eerste Nylon hemde; kleredrag wat na ‘n VLV vergadering gedra moes word; trourok van 1967; “going away” uitrusting van 1970 en ‘n Crimpelene rok uit 1970. Werklik groot pret en nostalgie op sy beste!

Mariaan Herbert het tot groot vreugde van almal teenwoordig vir Jak de Priester verwelkom. Hy is ‘n inwoner van Someret Wes en is passievol oor die Kaap en sy mense en oor Afrikaans. Met sy pragtige geaardheid en liefde vir musiek het hy ‘n program aangebied waarin daar iets was wat in elkeen se smaak geval het. Later het die gaste tougestaan om van sy CD’s te koop en hy het elkeen geteken. Vir die nageslag. Teen hierdie tyd was almal al lekker honger en is bedien met ‘n heerlike middagete en ‘n sny van die verjaardagkoek. Daarna kon elkeen trots en dankbaar teenoor Leta du Preez en almal wat die dag moontlik gemaak het, huiswaarts keer met ‘n warm gevoel om die hart en die wete:

Ek is lief vir die VLV!

 

 

 

 

Leta du Preez, Voorsitter van Strand Tak verwelkom gaste en lede by die heuglike verjaardagviering.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Maretha Badenhorst, ere lid van Strand Tak, stel die heildronk in op die Tak se 90ste verjaardag.

 

 

 

 

 

 

Marinda Rall, President van Sirkel Paarl en Maretha Badenhorst het elk ‘n pragtige protea ontvang vir hul bydraes om die dag se verrigtinge mooi in te kleur.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Mariaan Herbert, die “Generaal” agter die beplanning en uitvoering van die pragtige versierings en uitstallings wat die temas “Bewaar ons erfenis” en “Nostalgie” vasgevang het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Jak de Priester het die vrolike, feestelike atmosfeer nog verder betower met ‘n program wat ons laat vergeet het van virusse en inperkings en die gehoor kon net nie genoeg kry nie, maar hy het belowe om weer te kom!

 

 

 

 

 

 

 

 

Die dames het hulle beursies wyd oopgemaak vir Jak de Priester se CD’s en hy het elkeen geteken en aan die koper opgedra.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die modeparade met skeppings uit die jare toet het groot byval gevind. Hier is Susan Alberts met haar “Going Away” skepping van 1970.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Franci Albertyn opgetof om na die VLV Vergadering te gaan – aangetrek volgens die reëls in 1960. Hoede en handskoene was verpligtend.

 

 

 

 


Annette Stander ( links) en Kathleen Christensen (regs) is reg om kospakkies voor te berei vir die manne op die grens. VLV se harte en hande was oop vir liefdadigheid en gemeenskapsdiens in 1980 net soos in 2021. In die middel demonstreer Erna de Waal die harde realiteit van 2020/2021: Maskers van alle kleure, saniteer by elke deur van die môre tot die aand en ons temperatuur was nog nooit soveel kere geneem nie!


V.l.n.r Mariaan Herbert met ‘n swembroek wat deur haar ma gedra was in 1927 – die ritssluiter was wonderlik as ‘n dame se figuur oor die jare verander het. Ilse Barnard spog met ‘n tuisgemaakte kamerjas wat nou 70 jaar oud is en ‘n welkome kledingstuk nadat die “step-in” uitgetrek kon word. Milo was die “nuwe wonder drankie” van hierdie tyd. Erna Krüger op pad na ‘n deftige geleentheid met haar jakkalspels, handskoene en handsak in 1948. Dierebeskermingsverenigings het nog nie bestaan nie. Maretha Human met ‘n Voortrekkerrok en kappie wat haar skoonma gemaak het vir die inwyding van die Voortrekkermonument in 1945.

 

 

 

 

‘n Fraai rokkie, stoel, kissie, waskom en beker en Huisgenote (1960’s) – een van vele uitstallings uit die jare lank, lank gelede wat deur menige lede onthou is en herinneringe van ons voorouers se huise weer opgeroep het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die tafels vir die gaste het elk ‘n portefeulje uitgebeeld in die tema “Bewaar ons Erfenis”. Die Kookkuns tafel neem mens terug na ma en ouma se kombuise met die skaal, vleismeul en Kook en Geniet.

 

 

 

 


Wie van ons onthou nie nog die melkkarring wat altyd in die melkkamer gestaan het en gesorg het vir heerlike botter op die tafel saam met vars tuisgebakte brood, en die “bokskamera” wat ‘n spogartikel was, en die koper kandelare en snuiter wat gereeld “ge-polish” en blink gevryf moes word.

Hierdie groepie vrolike mense is ‘n toonbeeld van die vrolike geselligheid wat die verjaardagviering so uiters spesiaal gemaak het. V.l.n.r Erna de Waal, Marinda Rall (Sirkel President), Jak de Priester, Gonny du Plessis (Tak Voorsitter Paarl Tak),Leta du Preez (Voorsitter Strand Tak), Jolene Hall ( Voorsitter Drakenstein Tak) en Berta Spangenberg (Sirkelsekretaris).


Soos net ‘n VLV tafel kan lyk – deftig, klassiek, fyn. Die verjaardagkoeke, wortelkoeke, gebak en versier deur Hilary Nepgen en Hester Jordaan was smelt-in-die-mond lekker.