Sirkel: Overberg
Tak: Kleinmond
Portefeulje: Kunste&Handvlyt en Leefstyl
Beriggewer: Hermien Van Zyl
Fotograaf: Alice Van Rooyen
Datum: 26 Oktober 2021
In ‘n Neutedop…………….
Die jaar 2021 was vir baie mense seker net té lank, maar vir dié wat baie moes doen, was dit te kort om alles in te pas. Ook die VLV-bestuur van Kleinmondtak moes ‘n plan maak om alles in te pas. Daarom was die laaste vergadering van die jaar ‘n Inligtingsvergadering waarop aan die lede alle inligting rakende die VLVK- en sirkelkompetisies vir 2022 oorgedra is. Veral die praatjie deur ds. Jannie Hougaard van die Kleinmond se Kiekieklub oor hoe om ‘n deur af te neem en ‘n blommedemonstrasie deur Kobus Conradie, plaaslike blommekunstenaar, oor “Immergroen” rangskikkings, was baie insiggewend.
Annie Jooste, taksaamroeper vir Kunste & Handvlyt saam met ds. Jannie Hougaard(links) en Kobus Conradie.
Dit het bykomend ook aan die bestuur geleentheid gebied om die vier erelede wat benoem is, te vereer.
Kleinmondtak se 4 erelede met hulle sertifikate en geskenke is v.l.n.r. Annie Jooste, Wilma Fyfer, Susan Marais en Chrissie Kelly.
Die eerste om vir Susan Marais (90), links, geluk te wens met haar erelidmaatskap, was haar boesemvriendin Essie Groenewald.
Die pragtige geskenke is geborg deur Albertyn Apteek.
Ook is die nommer getrek van die gelukkige wenner van die kwilt wat vir takfondse uitgeloot is.
Louise Bruwer, voorsitter, met die kwilt wat sy in haar winkel Lu-Dal Interieur laat maak het en ook daar vir VLV-fondse uitgeloot het.
Die gelukkige wenner van die kwilt is Hannelie van der Merwe, onderwyseres van Hoërskool Strand, ‘n kliënt van Lu-Dal Interieur.
Gelukwensing is ook oorgedra aan Alice van Rooyen, Hermien van Zyl en Brenda Neethling met die plekke wat hulle verower het tydens die beoordeling van die sirkel se Gebottel&Gebak-kompetisies.
Alice van Rooyen, Hermien van Zyl en Brenda Neethling met hulle pryskaartjies.
‘n Bordjie soet en ‘n bordjie sout is weens covidregulasies weer net handgoedjies
’n Ope kompetisie was vir gebakte kersboomversierings. Hier is Louise Bruwer se wenstringetjie gemmermannetjies.
Leave A Comment