Sirkel: Overberg
Tak: Kleinmond
Portefeulje: Leefstyl, Gesondheid, Openbare Sake en Landbou&Tuinbou
Beriggewer: Hermien Van Zyl
Datum: 28 September 2021

Potpourri-Vergadering: Vrouemaand & Erfenismaand
Fotograaf: Alice Van Rooyen

Met die beperkings wat ‘n hewige derde vlaag van covidinfeksies veral op die Wes-Kaap gelê het, moes die VLV-tak van Kleinmond drie maandvergaderings kanselleer. Ten einde aan die portefeuljes Leefstyl, Gesondheid, Openbare Sake en ook Landbou&Tuinbou aandag te kon gee, is besluit om die September-vergadering, ‘n potpourri-vergadering te maak. Die blye weersiens van VLV-vriendinne was heerlik en ontspanne, veral omdat feitlik 100% van die lede reeds ingeënt is. Daar is entoesiasties deelgeneem aan die takkompetisies met inskrywings vir woordkuns, fotografie, handvlyt, brei-& hekelwerk en kookkuns.

Hendriëtte Cruywagen met haar rangskikking wat “Die Vrou” uitgebeeld het en ons erfenisblomme.

Augustus se Vrouwees is gevier met rangskikkings, ‘n praatjie oor tendense in die modewêreld en mooi voete vir die somer, terwyl Erfenis/Boomplantmaand afgesluit is met ‘n ledebespreking oor watter inheemse plante die beste aard op Kleinmond aan die hand van ‘n verhoograngskikking van fynbos. “Ons inheemse plante is óók ons erfenis en moet bewaar word” sê die Landbou&Tuinbou-groep.

Openbare Sake het die lede bekendgestel aan van die plaaslike besighede soos Memories, ‘n nuwe geskenkwinkeltjie, en The Beach Boutique, met ‘n nuwe eienaar, asook entrepreneurs soos ‘n dame wat verstelwerk aan klere doen en een wat voetversorging doen.

 

Die verhoog

 

 

 

 

 

Christine Pretorius demonstreer ‘n uitrusting aan die winkelpop

Malinda Prinsloo, die eienaar van die Beach Boutique en haar assistent, Christine Pretorius, het met die hulp van ‘n winkelpop hulle nuwe somersklerereekse kom demonstreer en namens die Leefstylgroep gewys hoe kan Die Vrou – Altyd stylvol lyk. Vloeiende meng-en-pas uitrustings, afgerond met tekkies, serpe, krale en interessante handsakke voltooi die somersilhoeët.

 

 

 

 

Die neiging om tekkies by alles te dra, is beaam deur Daphné Loots toe sy die dames ingelig het oor voetsorg, ‘n noodsaaklike skoonheidsritueel vir elke vrou, maar ook ‘n Gesondheidsbate om op te pas.

Daphné Loots, spreker oor voetsorg

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die tak se enigste stigterslid wat nog lid is van die tak, Wilma Fyfer, het haar 65 jaar-lidmaatskapknopie ontvang – ‘n merkwaardige prestasie.

Annie Jooste, vise-voorsitter, (links) het vir Wilma Fyfer haar 65 jaar-lidmaatskapknopie aangesteek

 

 

 

‘n Heerlike verposing was die strelende klanke van die Maanligsonate van Beethoven, soos op die klavier uitgevoer deur Marianne Kassier.

 

 

Marianne de Wet, saamroeper Openbare Sake, (links) het vir Marianne Kassier bedank ná die klaviersolo.

 

 

 

 

 

 

 

Jean Landman, saamroeper Landbou&Tuinbou, (regs) saam met groeplid Petra de Witt

 

 

 

Hermien van Zyl, saamroeper Leefstyl, (links) verwelkom vir Sysie du Toit, VLV-lid wat van Langebaan-tak af oorgeplaas is.

 

 

 

 

 

 

 

 

Alice van Rooyen, mediapersoon en fotograaf, (middel) bedank vir Malinda Prinsloo (links) en Christine Pretorius (regs) en oorhandig VLV-gedenkblikkies met beskuit aan hulle.