Sirkel: Noord-Karoo
Beriggewer: R Swanepoel
Datum: 23 September 2021
Simboliek van banier: Sirkel Noord-Karoo
In 1929 na ’n baie moeilike tyd van oorloë en depressie in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, is VLVKP onder die leiding van mev. Jossie Ackerman gestig. Die primêre doel met die stigting van hierdie vereniging was die ontwikkeling en vooruitgang van die plattelandse vroue. Swak ekonomiese omstandighede het huishoudings onder druk geplaas. Plattelandse sowel as dorpsvroue het met groot entoesiasme en belangstelling aangesluit en hulle verlustig in opbouende lesings en demonstrasies.
Met die stigting van ’n tak op Riviersonderend, het mev. Ackerman by ’n vriendin tuisgegaan. Op die houtstoof het ’n swart driebeenpotjie geprut. Die potjie was vir haar ’n inspirasie. Sy het gesê: “Solank die lepel in die pappot staan, voed ons moeders nog ’n volk!” Dit het ons letterlik gedoen!
VLV het ontwikkel tot ’n vereniging van dinamiese en kundige vroue, waar talent steeds ontgin en ontwikkel word. Ons het geleer dat die aandag wat aan volwasse opheffing en opleiding bestee word, ’n verbetering in ’n hele nasie te weeg bring! Lede het ook hul aktiwiteitsveld verbreed en gooi hul gewig deesdae oral in die publieke lewe in hul omgewings in! Die “lepel in die pappot” voed vandag nie net ’n honger maag nie, maar voed ook ’n hele samelewing op in Landbou en Tuinbou, Kunste en Handvlyt, Opvoeding en Kultuur, Gesondheid, Leefstyl en Openbare Sake.
Ons is trots op ons erfenis, ons suksesse in die verlede. Ons koester ons Leuse: Vir Huis en Haard en ons wapen met die pruttende swart driebeenpotjie! Dit sal altyd ’n ereplek by VLV hê.
Baie geluk Noord-Karoo. Dis ‘n pragtige vernuwende vaandel en so eie aan VLV.