Sirkel: Tygerberg
Tak: Parow
Portefuelje: Openbare Sake
Beriggewer: Lize Testa
Datum:12 Augustus 2021

Geslagsgelykheid en wat dit vir ons as vroue vandag beteken

Geslagsgelykheid is ‘n onderwerp wat elke vrou raak – Debbie Engelbrecht (0614882709) van Up To Me, het Donderdag, 12 Augustus 2021, met die dames van VLV Parow hieroor kom gesels.

In werksplekke regoor die wêreld staar vroue verskeie uitdagings in die gesig. Vroue, in identiese poste as mans, verdien tot 35% minder.

Vroue is geneig om poste in “koester en omgee” areas soos onderwys, verpleging, maatskaplike – en gemeenskapswerk te doen – die fondasies van gemeenskappe. Dié tipe poste verdien dikwels ‘n karige salaris, werk lang ure, en hulle waarde word heeltemal onderskat.

Hand aan hand met geslagsgelykheid, gaan geslagsgebaseerde geweld. Suid-Afrika is tans die gevaarlikste land in die wêreld vir vroue om in te bly en die statistieke is skokkend:

• 40% van alle geslagsgebaseerde geweld is huishoudelike geweld.
• Elke 10 minute word ‘n vrou verkrag, en net 1 in 9 verkragtings word aangemeld. Daar word geskat dat soveel as een vrou elke 80 sekondes verkrag word.
• In Suid-Afrika word ‘n vrou elke 3 ure vermoor, en 50% word vermoor deur ‘n persoon wat hulle goed ken.
• Wanneer ‘n vrou gewurg word deur ‘n man, is dit 11 keer meer waarskynlik dat sy deur daardie man vermoor sal word as ‘n vrou wat deur ‘n man geslaan word.
• Die gemiddelde vrou gaan 8 tot 9 keer deur die siklus van geweld voordat sy uit die situasie kan kom.

Oplossings vir geslagsgeweld is nie maklik of vinnig nie. Veral finansies maak dit moeilik vir vroue om uit geweldadige verhoudings te kom. Werksgeleenthede is skaars, en dus is die ideale oplossing om vroue te bemagtig deur opleiding om klein besighede te begin.

Up To Me het ‘n boekie opgestel met wat vroue, en die gemeenskap, kan en moet verwag van hulle plaaslike polisie en die regstelsel. Die boekie kan by www.uptome.org.za afgelaai word.

Hierdie is kwessies wat almal raak, maar dis ook in elkeen van ons se hande om ‘n verskil te maak aan hoe dit die volgende persoon gaan raak.

Dis in ons hande om te kies hoe ons, ons seuns groot maak, en of ons ons broers, pa’s, oupas, neefs en ooms verantwoordelik hou vir wat hulle doen.

Dis in ons hande om vir die vrou wat vir die soveelste keer in ‘n deur vasgeloop het, ‘n koppie tee te gee en te sê: “Ek is hier om jou te help.”