Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 22 Junie 2021

VLV VOËLVLEI ONTHOU WYSIES

Gedurende die byeenkoms het die dames meer insig gekry oor die waarde van musiek vir demensie- en Alzheimerpasiënte. Die tema van die vergadering vir Gesondheid, was ‘Wysies vir Onthou.’

Nina du Toit, Doktor in musiekterapie, het almal teenwoordig aan haar voete gehad. Musiek is bewys as die enigste aktiwiteit wat die hele brein betrek.Reeds in die Bybelse tyd en deur die loop van die geskiedenis, is musiek aangewend as terapeutiese hulpmiddel.

Sommige van die simptome van demensie en Alzheimersiekte is sosiale onttrekking, geheueverlies, verwarring oor tyd en plek, verandering in gemoedstoestand en visie asook die onvermoë om ‘n taak te voltooi.

Die waarde van musiek vir die pasiënte spreek al hierdie simptome aan en verbeter die algemene lewenskwaliteit vir die pasiënt sowel as vir sy/haar familie.

In kort videos wat vertoon is, is gesien hoe Alzheimerpasiënte vanuit ‘n totaal onaktiewe en asosiale posisie, ontluik en skielik weer ‘lewe kry’ sodra bekende wysies uit die onderbewuste gehaal word. Sommige sing saam, ander beweeg saam, dans saam en gesels saam.
Alzheimerpasiënte is gewoonlik tot baie meer in staat as wat ons dink. Twee uit ‘n hele paar aanhalings wat die dames baie geraak het, is die volgende:
“I can still smell the flowers. I don’t garden any more, but I can still smell the flowers. Bring me some roses. This will remind me of my past.”
“I can still sing. I can’t dance any more, but I can still sing. Help me enjoy music. This will enrich my life.

Belle Britain het die volgende oor musiek gesê: “I love it for what it makes me forget, and for what it makes me remember.”

Die hele voorlegging van Dr Nina du Toit het al die VLV-dames diep geraak en almal is daardeur verryk.

Dr Nina du Toit en Ada Gericke