Sirkel: Paarl

Tak: Slot van die Paarl

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Annalise Loubser

Datum: 1 Junie 2021

 

 

 

 

 

Kreatiewe “teedrink”pakkies wat die lede tuis kan nuttig

 

 

Tydens ‘n vergadering waar die veiligheidsprotokol stip nagevolg is, het Vera Joubert van Niekerk, ‘n brandweervrou, die volgende leersame feite met ons gedeel:

 

-Almal is deesdae bewus van sekuriteit. Weet jy waar die sleutel van die veiligheidshek is? Dit moet altyd op 1 plek wees. Hang dit 2 m van die hek af. Jy moet ‘n uitgang hê as jy wakker word en daar is ‘n brand in jou huis.
-Elke huis moet ‘n sigbare brandblusser hê; een wat jy kan hanteer bv 4,5kg. Dit moet elke jaar gediens word. Elke 3 jaar moet dit getoets word vir krake.
-Vuur op die stoof, bv olie wat brand – sit die deksel op, skakel die stoof af en haal af. Moenie water daarop gooi nie. Jy kan ook ‘n handvol koeksoda strooi oor die olie in die pan. Skakel die hoofskakelaar af as daar brand in die elektriese oond is. Jy moet die gewoonte aanleer om die gas van ‘n gasstoof elke aand toe te draai as die bottel in die huis staan. Dit is belangrik dat jy ‘n gasveiligheidskakelaar het al is dit vir die gasbottel wat buite die huis staan, want die pypie kan lek. Jou gasstoof moet ook elke jaar geïnspekteer word.
-Kragpunte wat oorlaai is – Daar’s altyd krag in die kragpunt, al is dit afgeskakel. Koop ‘n multiprop wat sal afskakel as iets gebeur. Gaan gereeld die kragproppe na.
-Verlengingskoord – vervang van tyd tot tyd. Dit moet heeltemal afgerol wees as dit op ‘n roller is, want dit maak statiese elektrisiteit. Dit moet ook nie baie klein opgerol word nie.
-Verwarmers – As dit lank aan is, word die omgewing warm en droog en as die temperatuur hoog genoeg is, kan bv die stoel of gordyn daar naby aan die brand slaan. Moenie gaan slaap met ‘n verwarmer wat aan is nie. Hê respek vir elektrisiteit/verwarmer.
-Elektriese kombers – skakel af wanneer jy gaan slaap. Inspeksie moet elke jaar gedoen word, want die draadjies buig.
-Hou altyd ‘n flitslig byderhand, veral ook by die kragbord/verdeelbord in die garage.
-‘n Eerstehulptassie moet burn shield dressing insluit.
-Het jy ‘n brandblusser en eerstehulptassie in jou voertuig?
-Kruip na ‘n uitgang as daar baie rook is.

‘n Vasvrae oor aktuele sake word gehou tussen 2 spanne. Dit sorg vir groot pret en die inspan van breine.

Lede het mildelik bygedra vir die bederfpakkies vir die personeel by die Windmeul Kliniek om dankie te sê vir hul onbaatsugtige diens, veral in die Covidtyd.

 Milly Myburg (4de van regs) en Bokka Wagenaar (3de van regs) oorhandig bederfpakkies aan suster Fortuin (regs) en haar personeel