Sirkel: Namakwaland
Tak: Vredendal
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Sophie Malan
Datum: 20 Mei 2021
Een van die VLV se studierigtings is Openbare Sake, waarby toerisme ingesluit is. Dit het die bestuur op die gedagte gebring om Meimaand, in plaas van die gewone vergadering, ‘n toer te reël sodat die lede hulle eie omgewing beter kan leer ken. So klim hul dan ewe vrolik die oggend in ‘n netjiese 22-sitplekbussie met die bekwame Pieter Cloete agter die stuurwiel.
Die groepie ry sommer onmiddellik by die NG Moederkerk verby, ontwerp deur Louw en Louw Argitekte van die Paarl en gebou deur Jot en Karel Engelbrecht. Hulle draai links in Kerkstraat, ry verby die geboorteplek van Ons Kontrei, destyds begin deur Valter Blaugsted, ‘n Deense immigrant wat later Suid-Afrikaanse burgerskap aanvaar het. Hul ry tot by Lausanneweg. Waarom ‘n straat en ‘n nabygeleë plaas met die name van Switserse stede? Dit is omdat die grond aanvanklik behoort het aan die Oettle’s, wie se oupagrootjie ook ‘n immigrant was en sy seun was ‘n magistraat wat hom na sy aftrede hier gevestig het.
Hul eerste stilhouplek is Vergenoeg, die eertydse energieke Katolieke sendingstasie. Hier word hulle vriendelik ontvang deur ‘n jong man wat pas met sy opleiding as priester begin het. Hy sluit vir hulle die kerk oop en die lede geniet dit baie om die mooi dinge in die gebou te ondersoek. Hul merk ook dat daar ‘n kollektebussie is met geld om die kerk se lekkende dak te herstel. ‘n Non vertel dat sy haar vroeëre nering hervat het en ‘n nuwe kleuterskool op Vergenoeg begin, omdat daar nie genoeg voorskoolse geriewe in Vredendal Noord is nie.
Die groep ry verder met die kanaalpad tot by Hospitaalstraat, ry deur die Eurekawoongebied, vroeër bekend as die Witblok. In Van der Stelstraat draai hul links, die gids vergeet om te vertel watter omstredenheid die bou van die hospitaal veroorsaak het, maar onthou darem om te vertel dat wat nou bekend staan as “die kaal stuk grond voor Moemfie en die klaskamers”, eens op ‘n tyd die rugbyveld en die tokkamers was. Met die ou kerksaal naby waar pluimbal gespeel is, was dit dus die sportkompleks. Hul het ook die ou kragstasie, Waterwese (nou LORWGV), die Sishenbrug, Lutzville, Holrivier en Vredendal Noord “raakgery” en in gietende reën tuisgekom.
Die lede was dit eens dat hulle baie geleer het. Hul gaan weer so maak: volgende keer takel hul die waterskema en landbou.
Taklede wat die toer meegemaak het.
Nice idee x