Sirkel: Kalahari
Tak: Vryburg
Beriggewer: Carien van Niekerk
Datum: Mei 2021

 

Met die kwynende getalle in die VLV takke, het ons die behoefte besef om meer sigbaar te wees en ook die waarde van VLV aan die gemeenskap te bewys. Daar is gefokus op entrepreneurskap en inligting van ons lede se suksestories is gepubliseer.

In VLV Vryburg is daar dames met baie talente. Met die kennis wat opgedoen is by die VLV asook die vaardighede wat aangeleer is, kon Marietjie Steyn haar tyd en talente gebruik om te bak vir die tuisnywerhede in die dorp, asook op bestelling. Sy spesialiseer in koeksisters en vleispasteitjies. Marietjie koop haar bestanddele in groot maat aan en ry een maal per week dorp toe om aflewerings te doen. Sy ondersteun ook mede boervroue deur eiers en botter by hulle aan te koop. Onlangs het Marietjie saam met ‘n vriendin ‘n besigheid begin waarin hul Koppiekoekies verkoop. Marietjie het navorsing gedoen om die regte bestanddele te meng in die regte hoeveelhede. ‘n Baie oulike inisiatief vir kinderpartytjies, trougeskenkies asook vir vrouedae. Die inligting is op hul Facebook by DIE KOPPIE KOEKIE. Marietjie se raad aan nuwe entrepreneurs is goeie kwaliteit bestanddele. Sy sê die beste bemarking is maar mense wat ander vertel.

 

 

 

 

Eurika Byleveld het grootgeword met ‘n Spreuke 31-moeder wat ook kon seep kook. In Vryburg het Eurika haar liefde vir seepkook verander van stokperdjie na sakeryk. Sy kook kouewaterboerseep en verskaf aan verskeie besighede reg oor die land. Haar raad is dat n mens altyd moet vernuwe in ‘n besigheid, al gaan dit goed.

 

 

 

 

 

 

Dorette Visser het onlangs by die VLV aangesluit maar het reeds haar entrepreneursvaardighede aan ons bekend gestel. In die begin het sy grimeersakkies gemaak saam met ‘n vriendin, maar haar liefde vir leer het haar oortuig om die mark te betree met hand- en skootrekenaarsakke. Sy koop haar leer aan by die leerlooiery maar hierdie ambag word al hoe skaarser. Dorette bemark in Gauteng en ook op sosiale media.

 

Die VLV gee vir elke sake idee ‘n hupstoot of help met bemarking. Ook met die besoeke aan klein besighede en entrepreneurs word nuwe idees gestimuleer en stokperdjies kan ontwikkel tot sakeryke.