Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Ada Gericke
Datum: 27 Mei 2021
Avo’s, kieme, kuns en koekies! VLV Voëlvlei aan die brand!
VLV Voëlvlei se Mei-vergadering was ‘n vol, maar interessante program.
Louis Vorster, ‘n avokadoboer van Grootbrak, het ‘n insiggewende praatjie gelewer oor avokadoverbouing in die Suid-Kaap. Die groot oorweging om avokado’s hier te vestig, was die feit dat avokado’s seisoenale vrugte is. Aangesien mense graag heeljaar daarvan gebruik wil maak, is die Suid-Kaap se oes ryp wanneer die noorde van SA se oes reeds af is. Dit beteken beter markgeleenthede plaaslik en in die oorsese lande.
Baie navorsing in ander produserende gebiede soos Mexico, Peru, Colombië en Kalifornië het gelei tot die oortuiging dat die Suid-Kaap ideaal is vir avokadoverbouing. Van die interessante feite wat aan die lig gekom het, is dat die bome se blomme deur die loop van ‘n dag manlik sowel as vroulik kan wees en dat hulle dus hulself bestuif. Verder word avokado’s slegs een keer per jaar met ‘n biologiese produk bespuit en nie soos byvoorbeeld sitrusvrugte wat tussen 16 en 25 keer met chemiese middels bespuit moet word nie.
Ander produkte, afgesien van die vrug self, is hoë-kwaliteit avokado-olie, wat baie hoë hitte kan weerstaan, guacamole (avokadopuree) wat onder hoëdruk prosessering sonder enige chemikalieë verwerk word om alle moontlike bakterieë te vernietig. Nog ‘n baie gewilde gebruik in Mexico is ‘n avokado-gladdejantjie (‘smoothie’) vir ontbyt! Dit word gemaak van avokado, melk en heuning.
Die sameroepers vir Gesondheid, Kunste en Handvlyt, asook Leefstyl, het die dames ingelig oor kieme op gewone alledaagse dinge soos selfone, tandeborsels en ander artikels. Die werk van die baie kunstige Kotzé-familie is deur Joma Meyer voorgestel, o.a. ‘n kruis wat deur Mariaan Kotzѐ vir hul geskilder is. Mariaan Kotzѐ se illustrasies kan in die tydskrif “Leef’ gesien word. Die verskille tussen ‘cupcakes’, muffins en ander soortgelyke koekies is verduidelik.
Met koppe vol kennis, na koppies vol tee, is die dames van VLV Voëlvlei baie gelukkig uiteen.
Leave A Comment