Sirkel: Middelland
Tak: Aberdeen
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Lea van der Vyver
Datum: 26 Mei 2021
Op 26 Mei 2021 word nog ‘n VLV vergadering in die klubsaal op Aberdeen gehou, aangesien daar steeds geen Covid-19 gevalle in die distrik is nie. Lea van der Vyver verwelkom lede en ń paar gaste. Sy open met 7 riglyne uit die Woord van hoe om in moeilike tye te oorleef. Kies om die Here te vertrou, beheer jou gedagtes, weet dat Hy naby jou is en jou krag gee.
Een van ons VLV lede, Elna van Niekerk, het die oorjassies van die personeel van die plaaslike Masekhane Kliniek borduur met elkeen se naam, sowel as die naam van die kliniek. Suster Lewies en Stafverpleegster Plaatjies neem die jassies in ontvangs. Lea van der Vyver bedank die kliniek vir die onbaatsugtige diens wat hulle oor die afgelope moeilike jaar met Covid-19, aan die gemeenskap gelewer het. Elna van Niekerk oorhandig die jassies.
Die dag se studierigting is Opvoeding en Kultuur en Saamroeper Luise de Jager kies geestesweerbaarheid as tema, aangesien dit baie uitdagende tye vir lede is, met die droogte sowel as Covid-19 wat ‘n rol speel. Die spreker is Ingrid Boshoff van Graaff-Reinet, wat ‘n honneurs graad in Pastorale Berading het.
In plaas daarvan om ‘n teoretiese boodskap of praatjie uit te werk oor krisisse, keuses, kennis, selfbeeld en geloof, besluit Ingrid om die praktiese uitvoering daarvan te deel. Sy vertel haar lewensverhaal van hoe die Here met haar ‘n pad gestap het, hoe Hy haar geroep het tot voltydse bediening en hoe haar geloof oor die jare gegroei het. Sy moes self verskeie krisisse in haar lewe trotseer, o.a. die dood van haar broer op 26, 4 miskrame en ‘n motorongeluk wat haar a.g.v. die beserings werkloos gelaat het. Sy het onwetend in depressie verval en in desperaatheid na God uitgeroep om hulp. Daarna het God haar geroep tot die bediening, iets wat sy na aanvanklike twyfel wel gedoen het deur in te skryf vir teologiese studies. Vandag is sy voltyds in die bediening en doen berading.
Ingrid se boodskap is dat die satan baie slegte dinge oor ons pad bring, maar die proses as ons daardeur werk, bring ons nader tot God. Ons moet weet dat Hy ons beskerm, dat Sy genade genoeg is en dat Heilige Gees in ons is. Ons moet leer om aan God se beloftes en Sy woord vas te hou. Sy Gees dra ons elke dag.
Die vergadering word afgesluit. Lea van der Vyver word gelukgewens met haar verjaarsdag en Annalie Lategan wen die gelukkige trekking van die dag.
Kliniekjassies borduur deur Elna van Niekerk
Oorhandiging van kliniekjassies. Vlnr: Elna van Niekerk, Stafverpleegster Plaatjies, Suster Lewies en Lea van der Vyver
Ingrid Boshoff aan die woord
Luise de Jager, Saamroeper Opvoeding en Kultuur, bedank vir Ingrid Boshoff
Groepfoto
Agter vlnr: Maritsa Schoeman, Maryke Lategan, Ingrid Boshoff, Elise Steynberg, Sonette Müller, Karin Pienaar, Carina Esterhuizen, Luise de Jager en Annalie Lategan.
Voor vlnr: Lucille van der Merwe, Linda van der Merwe, Petro Marx, Suzanne Lategan, Elna van Niekerk, Hannelie Louw en Lea van der Vyver.
Leave A Comment