Sirkel: Paarl
Tak: Strand
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Erna de Waal
Datum: 18 Mei 2021
Wat ‘n voorreg om weer ‘n VLV Vergadering te kon hê! Wat eens vanselfsprekend was, is nou ‘n voorreg. Die pandemie het ons geleer om klein dingetjies weer te waardeer.
Die VLV vergadering wat deur die Sameroeper, Bets Basson aangebied was, was ‘n ware fees en uiters leersaam met ‘n pragtige musiek item daarby.
Henriette Botes het stap-vir-stap gedemonstreer hoe mens suksesvolle makarons maak. Hierdie heerlike bederfies was sedert die agtste eeu, gedurende die Renaissance (1791) in Venisië se kloosters gemaak. Koningin Catherine de’ Medici se Italiaanse sjef het dit in Frankryk bekend gestel in 1533. Gedurende die Franse Revolusie, in 1792, het twee nonne die makarons gemaak en verkoop om vir hulle blyplek te betaal en daar het die heerlike koekies beroemd geraak. Die nonne het bekend gestaan as die Macaron Sisters. Gou het dit populêr geraak in Europa, Amerika, Japan en Suid Korea. Elke land het toe hulle eie variante ontwikkel. Die tradisionele resep het dieselfde gebly vir die laaste 150 jaar.
Leta du Preez het ’n insiggewende praatjie gegee oor Madeleintjies, bekend as “Petite Madeleine” wat hulle ontstaan in Frankryk in die middel van die 18de eeu gehad het. Lord Southwell, ‘n Ierse Jakobitiese vlugteling, het hierdie klein sponskoekies wat soos skulpies met boggelruggies lyk, bekend gestel. Die kommersiële sukses dateer terug na die begin van die 19de eeu toe groot hoeveelhede op die treinstasies verkoop is en hulle weg na Frankryk en ander lande gevind het. Teen die einde van die 19de eeu was madeleintjies gereken as die stapelvoedsel van die Franse burgerstand.
Bets Basson het die geskiedenis van Mokkatertjies en hoe hulle gemaak word uitgelê. Mokka koek en Mokkatertjies is een van die gewildste terte in Nederland en word ook in Frankryk gemaak: “Gateau moka au café”. Makrolletjies was volgende aan die beurt en glo my, dit lyk makliker om te maak as makarons!
Annaleze Sieberhagen het ons geleer hoe om vinnige en maklike Malvatertjies te maak. Malva poeding en malvatert het sy oorsprong in Suid-Afrika. Daar is verskeie verduidelikings waar die naam vandaan kom: van die malvaplant tot die naam van ‘n vrou met daardie naam. Ander benamings sluit in Jan Ellis poeding en bruin poeding. Die klein tertjies word van dieselfde resep gemaak.
By die VLV leer ons voorwaar baie vaardighede in die kombuis!
Vrolikheid was daar ook. Die Theatrix Singers van Stellenbosch het ons trakteer op pragtige sang so reg uit die Wilde Weste se kroeë. Hulle is ‘n toneelgroep wat volledige produksies en konserte op die planke bring. Die koordirekteur, Rika Vermeulen, sê hulle is nie ‘n normale koor nie, hulle is nie normaal nie! Daar is nie ‘n dirigent nie en die pianis wat hulle begelei beheer alles. Dié groep is in 2011 gestig en bring gereeld “shows” op die planke met kostuums en dekor. Hulle het ‘n paar uittreksels uit hulle huidige produksie “WANTED: dead, alive or in tune” gesing tot groot vermaak van die gehoor.
Die vergadering is afgesluit met tee en natuurlik: makarons, makrolletjies, madeleintjies en malvatertjies.
Henriette Botes demonstreer die maak van perfekte makarons
Henriette is die ene konsentrasie om volmaakte makarons te lewer.
Leta du Preez verduidelik waaroor madeleintjies gaan aan die hand van ‘n voorbeeld.
Bets Basson gee ‘n oorsig van die geskiedenis van makarons.
Annaleze Sieberhagen gesels oor malvatertjies, die ontstaan daarvan en deel ‘n paar resepte met ons.
Die Theatrix Singers wys dat hulle nie ‘n “normale koor” is nie. Links is Bets Basson – Sameroeper, Rika Vermeulen, Direkteur en pianis van die Theatrix Singers derde van links en die vier lede wat vir die vermaak gesorg het.
Teetyd met makarons, makrolletjies, malvatertjies, mokka koekies en madeleintjies!
Leave A Comment