Sirkel: Weskus
Tak: Eendekuil
Portefeulje: Landbou en Tuinbou
Datum: 2021-04-14
Beriggewer: Lydia le Roux
Op 14 April 2021 kuier Danie van den Berg (Piketberg), en die kinders van Eendekuil Laerskool saam met die VLV-“tannies”. Ons ontmoet vir “Ball python”, ook “royal python” genoem. Hy word só genoem, omdat hy sy lyf soos ‘n bal opkrul wanneer hy gespanne of bang is. Hierdie slang is inheems in Wes- en Sentraal Afrika, en is die mees gewilde slang om as troeteldier aan te hou. Dit is die kleinste luislangspesie met ‘n maksimum lengte van 182cm en glad nie giftig nie.
Slanglief lê gemaklik in sy baas se hand…. Soos alle slange is hulle feitlik blind en heeltemal doof en maak staat op hul reuksin om oor die weg te kom.
Die skoolkinders was sommer gou “mak” vir die slang en Danie het hulle gewys hoe om hom vas te hou en te hanteer. Slange hou glad nie daarvan dat daar aan hul kop gevat word nie, maar hou glo wel van die gestreel oor hul lyf….
Mevrou slang het ‘n meneer-maat; tydens die vertelling en hantering van eersgenoemde, was hy heeltemal tuis in sy plastiekhouer. Slange hou van klein spasies, dit laat hulle veilig voel.
Meneer slang het inderdaad só veilig gevoel, dat hy besluit het om die vreemde omgewing te verken, onder jillende ondersteuning van die kinders, en benoude uitroepe van die “tannies”!
Teen die einde van die baie interessante praatjie, het ons voorsitter, Marié Grobbelaar, haar dapper gehou en heel handig vir slangetjie vasgehou. Dit was ‘n interessante en insiggewende praatjie wat ons met nuwe oë na die gevreesde spesie sal laat kyk.
Leave A Comment