Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Portefeulje: Kunste En Handvlyt
Beriggewer: Theresa Troskie
Datum: 12 Mei 2021

Kunste en Handvlyt by VLV was ’n heerlike “doen” vergadering!

Adri Krüger, sameroeper, het die vergadering bekend gestel aan twee splinternuwe entrepreneurs-besighede in Murraysburg:

’n Jong, nuwe boervrou van Murraysburg, Riana van Heerden, is ’n gekwalifiseerde skoonheidsdes-kundige. Sy het al vir 10 jaar in die bedryf gewerk in S.A. sowel as oorsee, tot hulle plaas toe gekom het. Sy het toe besluit om ’n skoonheidsalon op hul plaas te open en is aangenaam verras met die ondersteuning. Sy gee ’n geskenkbewys aan ’n gelukkige wenner, naamlik Dalena Retief. Hierdie besigheid beantwoord in ’n groot behoefte in Murraysburg.

Hannes Krüger vertel van sy besigheid waar hy houtsteentjies uit afvalpapier, water en houtskaafsels vervaardig vir vuurmaak. Eers verpulp hy papier, daarna word daar houtskaafsels bygevoeg. Die pulp word dan in ’n handgemaakte pers gepars om soveel as moontlik van die water uit te kry. Die steentjies word vir ’n paar dae in die son gedroog en word dan saam met hout gebruik, dis omgewingsvriendelik, kreatief en “groen”! Hannes verkoop ’n bierboksie vol steentjies vir R20. Hy gee ook ’n kissie van sy houtsteentjies aan ’n gelukkige wenner weg. Hierdie besigheid is so reg in die kol, omdat dit op herwinning gebaseer is.

Adri vertel dat mandalas reeds uit die 4de eeu dateer. Dit word gebruik vir ontspanning, meditasie asook terapie. Mandala is ’n Sanskrit woord vir sirkel oftewel lewe. Boeddhiste spandeer dae om mandalas van verskillende kleure sand te maak. Hulle werk van buite na binne – om jouself weer te sentreer en by die kern van jou menswees uit te kom. Hierna vee hulle die mandala dood om te bevestig hoe kortstondig die lewe is en dat niks permanent is nie.

Christene gebruik ook al vir eeue mandalas bv. in die loodglasvensters van kerke.
Handwerksters hekel en brei pragtige leefstylartikels in mandala patrone.

Terwyl Adri hierdie interessante geskiedenis met die dames deel met ’n blitsflitsaanbieding van die aller-pragtigste mandalas, moes lede stilbly en elkeen self ’n mandala inkleur. Agterna het Adri die betekenis van verskillende kleure wat die dames gebruik het uitgewys.