Sirkel: Weskus
Tak: Leipoldtville
Studierigting: Landbou&Tuinbou Uitstappie
Beriggewer: Elsabe Carstens
Datum: 29 April 2021
Leipoldtville Tak se dames het besluit om op hulle eie onkoste ‘n uitstappie te onder-neem en ‘n bietjie in die vars lug te kom en ons eie mooi plekke te gaan besoek rondom ons. Die uitstappie was na Bosjes, ‘n ou familieplaas aan die voet van die Waaihoek-berge in die natuurskone Breëvallei.
Dit is ‘n werkende plaas en is onlangs ontwikkel tot ‘n unieke bestemming vir gaste. Die Kapel, omring deur tuine, maak op sigself die besoek aan Bosjes die moeite werd. Die Kapel lyk soos ’n droombeeld met golwende wit kurwes en sy glasmure. Die Kapel, geïnspireer deur Psalm 91 vers 4, is deur Steyn Studio van Londen ontwerp en dit lyk asof daar lig op die waterpoele rus. Die interieur is eenvoudig en adem ‘n gees van rustigheid en kalmte. Die Kapel is geleë in stil en rustige tuine met kontrasterende plante: van droëwoestynbossies tot welige tropiese plante.
Lede voor die Kapel
‘n Waterfokus lok die besoeker nader. ‘n Verhewe labarint dra by tot die atmosfeer van nadenke en meditasie. Van bo ‘n klein koppie word stappers beloon met ‘n anoramiese uitsig oor die landskap en tuine.
Die restaurant spog met ‘n hoë plafon en glasmure en ‘n terras vir buiteligetes. Bosjes se spyskaart is ‘n samestelling van opgesmukte, geurige kos. ‘n Delft-geïnspireerde keramiekmuur van 366 teëls is deur Lucie de Moyencourt en Michael Chandler geskep en is vol simboliek. Dit heet die Bosjes Lewensboom en beeld die plaas se fauna en flora uit.
Die uitstappie is afgesluit met ‘n besoek aan Tulbagh kwekery op pad terug Leipoldtville toe.
Leave A Comment