Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Theresa Troskie
Datum: 10 Maart 2021

Maretta Theron, sameroeper van Gesondheid, meld dat die heel eerste gediagnoseerde geval van Covid-19 presies ’n jaar gelede in ons land aangekondig is. Sy gee statistiek van al die pandemies wat die wêreld al getref het.

Die gasspreker, Susanna van der Merwe, vertel hoe ons perfekte wêreld met die koms van Covid-19 handomkeer verander het. Sy speel ’n video van ’n simfonie-orkes met die begin van C Mineur vir Orrel van Saint-Saëns waar die “warboel musiek” met dromme en simbale ’n crescendo en “orde” bereik.

Ons het ’n hele nuwe woordeskat aangeleer, hoe reageer ons wanneer ons saamgebondel en afgesonder is? Dood het ’n werklikheid geword – is jy gereed daarvoor? Sy gee ’n lys maniere om positief te bly.

Sy sluit af met ’n video uit die film, Babe, waar die liedjie If I had words gesing word en die siek varkie stadig maar seker gesond word en die eienaar uiteindelik van vreugde ’n klopdans uitvoer!

Ons tweede gasspreker is Monica Theron. Sy gesels met ons oor hormone en hoedat dit met essensiële olies baie suksesvol behandel kan word. ’n Wanbalans van hormone veroorsaak dikwels buierigheid, gemoedskommelings, terneergedruktheid, emosies, huilerigheid, gloede, erge sweet, warm gloede, hoofpyn, slapeloosheid, ens. Al hierdie simptome kan suksesvol met essensiële olies behandel word. Op ’n kundige en deeglike manier bespreek sy ’n hele reeks olies en hul spesifieke voordele vir die behandeling van hormone wat pla. Sy moedig die dames aan om vir hul eie gesondheid op alle gebiede meer gesond te lewe.