Sirkel: Overberg
Tak: Kleinmond
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Datum: 27 April 2021
Beriggewer: Hermien Van Zyl
Die vreugde van ‘n VLV-weersiens was letterlik voelbaar toe die Kleinmond-tak op 27 April 2021 vir die eerste keer sedert die covidinperking ‘n vergadering gehou het. Sosiale afstand en maskers kon nie ‘n demper plaas op die uitruil van ‘n jaar se stories nie, en gehoorapparate en mikrofone het met volle kapasiteit gewerk. Die gasvroue was die dames van Opvoeding&Kultuur onder die leiding van Anne Borman, saamroeper en remediërende onderwyseres by die KidsCan Nasorg- en Leersentrum.
Vryheidsdag het ‘n heel ander doel gedien, want weens die vakansiedag kon die hele personeel van die KidsCan Nasorg- en Leersentrum die vergadering bywoon om die VLV-lede in te lig oor die sentrum se aktiwiteite. Dis met entoesiasme gedoen deur Linda Bruce, die hoof, wat dit toegelig het met ‘n powerpoint-vertoning, en Hannatjie Doorduin, die bemarker. In 2010 het Linda die behoefte gesien van ‘n nasorgsentrum, spesifiek vir die inwoners van Proteadorp, waar die ouers lang ure werk en dikwels nie die kundigheid en middele het om hulle kinders met huiswerk en take te help nie. Die sentrum neem net leerders van 6 – 11jaar oud in, m.a.w. graad 1 – 4. Van hulle word letterlik geleer om ‘n potlood vas te hou, kleure en vorms te herken en met goeie maniere te sosialiseer. Fondse word genereer deur ‘n winkel met tweedehandse artikels wat in Pringlebaai bedryf word, en skenkings. Die VLV-lede van Kleinmond neem KidsCan aan as ‘n projek en lede gaan deurlopend skryfbehoeftes en ander benodigdhede aan die sentrum skenk. By geleentheid gaan die kinders vir die tannies kom optree.
Lezette van Jaarsveld en Anne Borman het vir ‘n stukkie nostalgiese kultuurgoed gesorg met ‘n tweespraak tussen Alie en Ou-Melitie uit “Stories van Rivierplaas”.
Lede het weer deelgeneem aan die maandkompetisies met digkuns, fotografie, gebak, breiwerk en blommerangskikkings.
Die personeel van KidsCan Nasorg- en Leersentrum. V.l.n.r. Linda Bruce, Anne Borman (taksaamroeper), Maryna Hattingh (Aktiwiteite) en Hannetjie Doorduin.
Die treffende slagspreuk wat op die doek gegooi is.
Die kinders se optrede op die grootdoek vasgevang en kom weergee.
Bydraes (skryfbehoeftes) vir die nasorgsentrum.
V.l.n.r. Annie Jooste, vise-voorsitter het die vergadering gelei, Alice van Rooyen, VLV-mediapersoon, Anne Borman, saamroeper vir Opvoeding & Kultuur en Marianne de Wet, bestuurslid.
Hermien van Zyl, taksekretaresse, saam met Annie Jooste, vise-voorsitter, en Alice van Rooyen, die tak se fotograaf en beriggewer vir die plaaslike media, asook die tak se FB-blad.
Lezette van Jaarsveldt het die item gelewer
Blommerangskikking-kompetisie: Vir ‘n vriendin, klein, fyn en vroulik
Fotokompetisie: Kombuisgereedskap.
Hierdie wyse ou oë verpersoonlik al die onderwysers wat in óns lewens ‘n kardinale rol gespeel het.
Leave A Comment