Sirkel: SWD
Tak: Klein-Brakrivier
Studierigting: Landbou & Tuinbou
Beriggewer: Lydie Terblanche
Datum: 20 April 2021
Klein-Brakrivier se lede het ‘n heerlike uitstappie na die toweragtige Eight Bells Mountain Inn geniet. Daar was ‘n begeleide toer deur die pragtige tuine van die landgoed, besigtiging van die historiese gebou, ‘n interessante vertelling deur die vriendelike eienaar Billy Engelbrecht oor die geskiedenis van die eiendom, asook natuurlik smullekker koek en tee.
Vir diegene in ons omgewing wat nog nie daar was nie, is ‘n besoek aan die historiese Eight Bells Mountain Inn ‘n uitstappie wat beslis oorweeg moet word. Die oorspronklike grond (2322 morg), is in 1816 deur die destydse Kaapse Goewerneur, heer Charles Somerset, aan Johannes Petrus Marx toegeken. Vandag staan die gebou steeds in die skaduwee van een van die grootste en oudste oorlewende akkerbome waarvan die takke ‘n 20 meter radius span.
Deur die jare het reisigers en handelaars gereeld tussen Mosselbaai en Oudshoorn deur hierdie area aan die voetenent van die Attikwas bergpas (deesdae Robinson), beweeg. Ruiters kon hier uitspan en oornag, vandaar dat die distrik “Ruyterbosch” genoem is.
Gedurende die 1930s is seemanne van die Koninklike Vloot (gestasioneer in Mosselbaai), asook die vlieëniers van die Koninklike Lugmag (gestasioneer in Oudshoorn) ter voorbereiding vir gevegte in Noord Afrika, hier opgelei. Dit is die gereelde teenwoordigheid van die vloot-manne wat die plaas Eight Bells se naam beïnvloed het. Wanneer seemanne op skepe wag gestaan het, is ‘n klok elke halfuur van ‘n vier uur skof gelui. Agt klokke het dus die einde van die skof aangedui en ‘n periode van rus het begin. Om dié rede was Eight Bells ‘n gepaste naam vir die oord wat ‘n rustige vakansie tussen ‘n majestueuse berg-omgewing bied.
Pragtige tuine op die plaas
Baas van die plaas Rustige plaastonele
‘n Paar trawante word gekliek
Driemanskap span uit onder die klok
Enjinkamer van die dag – Lynette, Lydie en Cecilia
Leave A Comment