Sirkel: SWD
Tak: Klein-Brakrivier
Studierigting: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: L Terblanche
Datum: 30 Maart 2021
Die Klein-Brakrivier VLV-tak het 2021 met ‘n moderne weergawe van hul tak-vaandel, ingegaan. Die nuwe mosaïek vaandel is deur Cecilia Pieterse gemaak. Dié tak is op 1 Julie 1938 deur mev Dora Robertson op die plaas Groot Zorgfontein, aan huis van mev Ruben Terblanche, gestig. In ‘n latere stadium was die plaashuis bekend as Stonehill en bedryf as ‘n gesogte restaurant in die omgewing – een van die vertrekke was vernoem na Dora Robertson. Vandag word Klipheuwel, of te wel die “Padstal”, steeds bedryf uit die oorspronklike plaashuis.
Die tak het reeds hierdie jaar bietjie meer geleer oor die ontstaan van die tak en historiese bydraes tot Klein-Brakrivier as dorpie. So is daar byvoorbeeld tussen die jare 1945-1948 deur die tak versoeke aan verskeie instansies gerig vir: beter toilet geriewe en veelaaikrale op die stasie; asook reddingsgordels, badhuisies en bankies by die strand – hierdie versoeke is almal mettertyd uitgevoer.
Tydens die Maart 2021 takbyeenkoms, kon lede en gaste meer leer oor die seepmaakproses. In April is daar ‘n uitstappie na 8-Bells met ‘n toer deur die tuine en ‘n historiese oorsig oor die plaas. In Meimaand gaan daar ‘n mini-kursus oor die maak van dekoratiewe Kersfees-balle wees.
Dankie aan al die dames wat ons tak so lekker maak en die bestuur wat alles reël.