Sirkel: Middelland

Beriggewer:  Hannelie Low

Datum: 7 April 2021

In ons lewens word ons soms verfrommel, laat val en in die grond in getrap deur omstandighede wat oor ons pad kom en besluite wat ons maak.

Covid en kie, het baie van ons ontneem en ons behoorlik gebombardeer met buitengewone omstandighede.  ‘n Nuwe hoofstuk van die “nuwe normaal” het afgeskop.  In hierdie uitdagende omstandighede het Sirkel Middelland lede baie geleer en maniere gevind om kontak met mekaar te hou.

So het Sirkelbestuur, asook sommige voorsitters, video’s van bemoediging, uitdagings, gelukwense en demonstrasies op die Middelland Facebook blad geplaas.  Hierdie video’s is ook, per WhatsApp, aan lede gestuur wat nie toegang tot Facebook het nie.

Lede het ook ywerig foto’s van hulself, met die tema, “Gepantser met Maskers”, gestuur.  ‘n Collage is van al die spogfoto’s gemaak en ook op Facebook asook die VLVK Webwerf geplaas.

         

         

Bydraes t.o.v. Droogte- en Dierehulp, asook die Brande in die Noord-Kaap en Vrystaat, is deur takke ingesamel.

Sirkel Middelland is dan ook die hoofborg vir die ontwikkeling van die Hearts4Art webblad (www.hearts4art.co.za) vir die jaarlikse aanlyn kunsveiling van kunswerke ten bate van CANSA.  Sommige lede het ook hul kuns talente ingespan vir hierdie unieke en besonderse “Bodice Art”. 

         

 

         

By Sirkel Middelland streef ons daarna om die lewenspakkies wat aan elkeen van ons uitgedeel is te aanvaar en om dankbaar te wees vir nog ‘n kans om ons lewens, en die van ander, te verbeter en positief te beïnvloed.  Dit is belangrik om te onthou dat…dít wat op jou tafel is, NOOIT belangriker mag wees as hulle wat om jou tafel is nie, want elke goeie daad vermenigvuldig die goeie gesindheid en liefde wat ons nodig het, asook die waardering vir mekaar én ander se menings, gedagtes en gevoelens.

Die volgende aanhaling is so van toepassing op vandag….

“Dis ons verantwoordelikheid om mekaar virtueel aan te raak, en so mekaar se harde dae sagter te maak”