Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal

Portefeulje: Opvoeding En Kultuur

Beriggewer : Sophie Malan

Datum: 25 Maart 2021

 

Vredendal Tak het op 25 Maart weer vergader na ‘n lang onaktiewe tyd as gevolg van die inperking. Was die weersiens van lede uitbundig en dankbaar! Ons was baie bly om mekaar weer te sien na die onseker tydperk. Genadiglik kan ons berig dat almal ongeskonde deur die tyd gekom het.

Opvoeding en Kultuur was verantwoordelik vir die program. Die sameroeper het besluit om die program te beplan rondom ‘n skets wat ‘n vriendin geskryf het oor haar seun, wat fisies gestremd is. Dit het dus gegaan oor die uitdagings wat leerders met fisiese gestremdheid ervaar in hoofstroomskole. Die gestremdheid kan enigiets behels van effense doofheid, wat die dra van ‘n gehoorapparaat noodsaak, tot die verlies van ‘n ledemaat. Ons het ook agtergekom dat dit ‘n feit is dat hierdie kinders ALTYD geboelie word, somtyds deur onderwysers self.

Ons het van die geleentheid gebruik gemaak om die nuwe hoof van Laerskool Vredendal, Mnr Riaan Van der Watt en sy vrou, wat die remediërende onderwyseres is, te nooi om te kom kennis maak en terselfdertyd oor die onderwerp te praat. Sy praatjie het meer gefokus op die boelie-aspek, wat die oorsake daarvan is en hoe dit hanteer moet word. Ouers moet ook bedag wees daarop dat hulle kinders dalk die boelies is.

Die lede het dit interessant gevind en die skoolhoof het gegroet met die tentatiewe uitnodiging dat die VLV in die skoolsaal kan vergader – ‘n uitnodiging wat ons met vreugde sal aanvaar, mits daar goeie kombuisgeriewe is!

Mnr Riaan van der Watt, Mev Sophie Malan en Mev van der Watt