Sirkel: SWD

Tak: Klein Brakrivier

Beriggewer: Lydie Terblanche

Februarie 2021

 

Leer meer van ons lede

Hierdie week kyk ons na ons tak se onder-voorsitter, ‘n ware sieraad, Lynette Nel.

Lynette vertel van haarself in haar eie woorde:

“In Engels noem ek myself WYSIWYG, wat sê “What you see is what you get!”

Ek het ‘n passie vir diere, kinders en bejaardes, (waar ek ook nou inpas).
Ek glo in God, Jesus en die Heilige Gees met my hele wese, alles wat ek is en doen, doen ek met oorgawe om God te eer!
My kinders is twee seuns en ek is die trotse skoonma van wonderlike skoondogters wat saam 6 kleinkinders vir my gegee het en ek is bitter lief vir hulle!
Die lewe was goed vir my, is goed vir my.
Met al die wonderlike vriendinne en geliefdes, kan ek net geseënd wees.
Elke projek wat ek aanpak probeer ek om saam met my vriendinne te doen, want ek leer soveel van liefde, verdraagsaamheid, kameraadskap en geloof by hulle. Wanneer ons so saam sit en werk, leer ons regtig mekaar ken. Ons lag saam, huil soms saam, wens soms saam, deel ons oppe en affe met mekaar!
Uitdagings is vir my ‘n verslawing. Dit gee aan my die gevoel van oorwinning. Wanneer ek iets begin, vra ek eers hulp van Bo, en glo my dat elke keer kry ek meer as waarvoor ek vra.
Om my hande besig te hou is baie belangrik, want my moeder het altyd vir my gesê dat ledigheid die duiwel se oor-kussing is, en ek wil vir geen geld in die wêreld ‘n oor- kussing wees nie!
Om te gee is my passie. Die gevoel van gee is soos om vroeg in die oggend in die veld te stap en die skepping te bewonder wat God so gratis uit Sy hand aan ons gegee het! Mag ons altyd onthou dat deur te gee, ontvang ons 7 x 7 terug! Mag die persoon wat hierdie briefie lees, die gee-gevoel ervaar soos wat ek dit ervaar! Laat jou lig altyd skyn….

Ek wil sommer nou vir elke vriendin wat gedurende die lockdown vir my gehelp het met die projekte, baie dankie sê! Ek sou nie die projek sonder julle kon doen nie! Kom ek kyk of ek elke naam kan onthou: Leedee, Christa, Cecilia, Helen, Suzette, Meisie en almal wat gehelp het met bottels mooimaak, koekies bak, of enige ander iets, julle is die beste en ek wil al ons ander vriendinne uitnooi om hierdie jaar by ons in te skakel en deel van hierdie projek te word! Die gesiggies van die mensies by ACCV se Facebook blad spreek van self! GEEN geld kan daai vreugde koop nie! So, indien nog iemand deel wil word van die uitreiking kan julle my kontak asseblief! Ons gaan weer die bottel-projek doen maar vir die volgende Tehuis! Indien julle wil dat ons betrokke raak by ‘n Tehuis wat jy wil ondersteun, gee asseblief die naam en dorp van die tehuis vir my dan kontak ek hulle!”

 

Lynette en ‘n vriendin maak 60 sakkies met klapperys vir die DBV.   240 Bottels vol koekies

Lynette begin met kunslesse.                                    Sy versier blikkies vir ‘n eetplek

Bottels met lekkernye vir Valentynsdag

 

‘n Diamond Picture in wording

       

Sy help graag die DBV met hul projekte.

Geskenke, klapperys en koekies wat sy in bottels verpak.