Sirkel: Kalahari
Tak: Kuruman
Portefeulje: In Memoriam
Beriggewer: Hettie du Plessis-Krüger
Datum: 11 November 2020
In Memoriam: Zoetjé Oosthuizen
Zoetjé Oosthuizen is een van vyf lede wat Kuruman VLV-tak sedert Julie 2019 aan die dood moes afstaan. Op Woensdag 11 November 2020, tydens dié tak se jaarafsluiting, het kersfeesliggies vir hierdie lede gebrand.
Zoetjé Oosthuizen (4 Augustus 1955 – 30 September 2020), tweede van regs.
Só onthou Kuruman VLV-tak vir Zoetjé Oosthuizen – altyd laggend. Zoetjé het in 2005 by Kuruman VLV-tak aangesluit en was vir meer as vyftien jaar ‘n getroue lid.
Haar naam is van Flaamse afkoms en beteken ‘soet’, ‘lief’, ‘aangenaam’ en ‘vriendelik’ – ráák beskrywings vir onse Zoetjé. Dit is ‘n familienaam wat vroeër met ‘n S gespel was, totdat ‘n onderwyser van die tante na wie Zoetjé vernoem is, die naam nagevors en gesien het dat dit eintlik met ‘n Z gespel word.
Soos haar naam aandui, was sy ‘n sagte persoon, ‘n goeie luisteraar, iemand wat graag gehelp het waar sy kon, ‘n inspirasie en ‘n denker. Zoetjé se kreatiwiteit en skeppingsvermoë het geen perke geken nie.
As voormalige predikantsvrou en diep gelowige, het Zoetjé telke male die opening van ‘n VLV-byeenkoms met skriflesing en gebed waargeneem.
Sy het nog op Woensdag 26 Februarie 2020, voor die grendeltyd, as spreker tydens ‘n Kunste & Handvlyt-vergadering van Kuruman VLV-tak opgetree, waar sy oor haar skryfproses gesels het. Sy was besig om haar vierde boek te skryf – ‘n roman wat afspeel in die bosoorlog, getiteld “Grensroer”. Tydens die vergadering het sy ‘n hoofstuk uit die boek voorgelees en die dames het behoorlik aan haar lippe gehang!
Op haar Facebook-blad https://www.facebook.com/zoetje.buysoosthuizenskrywer verskyn uittreksels van dié nuwe boek!
Skielik hoor sy sleep en weer sleep geluide op die sementvloer. Dis asof iemand se gewig te swaar is .
Toe sien sy haar ouma se voete voor die bed in beweeg. Sy sleep hulle asof hulle te swaar is om op te tel.
Die stampgeluide van stewels kom al hoe nader en hoe nader…..
“Nee,” hoor sy haar ouma saggies snak na asem. En toe weer, “Nee!”
‘n Knalgeluid soos van ‘n geweerkolf laat haar inmekaarkrimp van bang. Haar asem wil nie in en uit nie.
Die volgende oomblik val haar ouma se sagte lyf op die harde sementvloer. Haar sagte oë kyk smekend vir ‘n oomblik diep in haar dogtertjie siel in, en dan bly dit net staar.
Met haar wye belangstellingsveld, was sy onder andere deel van die tak se Opvoeding & Kultuur-, Landbou & Tuinbou- en Kunste & Handvlyt-groepe.
Sy het graag VLV-projekte soos Women Walk the World ondersteun.
Zoetjé Oosthuizen, néé Buys, het as plaasmeisie naby Sannieshof grootgeword. Sy het in 1973 aan die Hoërskool Sannieshof gematrikuleer. Sy het daarna BA-onderwys by die destydse Potchefstroomse Universiteit gaan studeer.
‘n Sin vir avontuur het haar geïnspireer om by die weermag aan te sluit en só nuwe wêrelde te sien. Ná streng keuring en opleiding, het sy by die Suid-Afrikaanse Weermag se Berede Sentrum aangesluit. In haar boek, “Ja, Luitenant!” (die middelste boek op die foto) wat in 2016 verskyn het, het Zoetjé van haar wedervaringe as Luitenant in die bosoorlog vertel. Haar dogter was ‘n baba van vyf maande en is saam met haar grens toe!
Dit is hierdie einste dogter wat haar aangespoor het om oor haar ervaringe te skryf en sodoende daardie hoofstuk van haar lewe af te sluit – terapie vir haar eie siel.
Zoetjé was ‘n Ops Inligtingsoffisier in die lugmag en het in 1988 die heel eerste vrou geword om ‘n Pro Patria-medalje vir haar diens te ontvang. Dit alles getuig van hoe ‘n sterk geestelike mens sy was. Elke vrou kan assosieer met die lewenslus en dapper waagmoed wat Zoetjé aan die dag gelê het om haarself te staal.
Sy het in 1977 begin skryf en het al verskeie kortverhale in tydskrifte soos Weg! en Rooi Rose gepubliseer. Die SAUK het ook al van haar skryfkuns voorgelees. Haar eerste vollengte boek, “Grensroep van die liefde” (die regterkantste boek op die bogenoemde foto) het in 1990 verskyn. Dit is ‘n roman wat afspeel in die bosoorlog van Suid-Wes en is deur Perskor gepubliseer.
Zoetjé was ‘n Labrador-teler. Haar seun, FP, is as baba gebyt deur ‘n kruisteling hond. Iemand het haar toe aangeraai om ‘n Labrador te kry om hom te genees van die trauma en weer lief te maak vir honde.
Dit was vir haar wonderlik om te sien hoe haar Labradors mense help as gidshonde, oppassers vir outistiese kinders, mense in rolstoele, dowe mense en selfs diabete. Dit is ook hoe haar tweede vollengte boek, “Roxy – ‘n ware verhaal” (die linkerkantste boek op die bogenoemde foto) wat in 2007 vrygestel is, tot stand gekom het. Die boek is baie gunstig by die AARDKLOP Kunstefees op Potchefstroom ontvang.
Zoetjé het in 2017 die Lekkerlees boekwinkel in Purchaselaan, Kuruman geopen. Daar was boeke te kies en te keur teen pryse wat jou sal laat wonder of jy terug in tyd gereis het.
Haar idee met die Lekkerlees boekwinkel was om die boekwurms in Kuruman ‘n gerieflike plek te gee om te sit en lees. Dit het vir haar oor die liefde vir stories en boeke gegaan.
Zoetjé (tweede van links) is op 4 Desember 1976 vanuit die Gereformeerde Kerk Uitskot met haar eerste man, Ds Jan Aucamp getroud. Drie kinders is uit die huwelik gebore – Esca Jacobs (heel regs), Hannelie van Noordwyk (tweede van regs) en FP Aucamp (heel links).
Ds Aucamp was voorheen aan die Gereformeerde Kerk op Kuruman betrokke, maar het die bediening in 2011 verlaat. Die paartjie het saam in Otjiwarongo, Odendaalsrus, Brits en Kuruman gewoon. Hulle was sedert Maart 2005 in Kuruman en is ongeveer tien jaar gelede geskei.
Zoetjé het haar twee kleinkinders, Eduan (11) en Zoelien (8), baie geniet.
As ‘n mens aan Zoetjé die skrywer dink, sien jy haar in haar kleinkinders se boomhuis met ‘n koppie koffie in die hand, besig om haar nuutste storie eers met die hand op papier te skryf voordat sy dit tik. Skryf was vir haar baie terapeuties.
Haar talente het egter nog veel verder gestrek en sy was ook baie lief vir skilder. Sy het die skryfproses met skilder vergelyk – jy moet eers net die buitelyne op papier kry – jy kan later die fyner besonderhede in verf.
Sy was ook lief vir binnenshuise-versiering en het haar styl as ‘n “ou plaashuis”-gevoel beskryf. Zoetjé was ook mal daaroor om te reis.
Hannelie vertel dat haar ma al die koerantuitknipsels van haar weermagdae, haar kuns en haar boeke in albums gehou het – ‘n wonderlike nalatenskap vir hulle as kinders.
Zoetjé se dogter, Hannelie en kleindogter, Zoelien van Noordwyk het Kuruman VLV-tak se eerste byeenkoms sedert die grendeltyd op Woensdagmiddag 7 Oktober 2020 op uitnodiging van die tak bygewoon. Zoelien se naam is ‘n kombinasie van haar twee oumas, Zoetjé en Rolien, se name. Rolien van Noordwyk was ook ‘n lid van Kuruman VLV totdat sy onlangs na Brits verhuis het.
Zoetjé Oosthuizen se dogter, Hannelie en kleindogter, Zoelien van Noordwyk, saam met Petro Spangenberg van Kuruman VLV-tak.
Petro Spangenberg het tydens die geleentheid ‘n huldeblyk aan Zoetjé opgedra: “Zoetjé was vir my soos ‘n wasempie, altyd sag gepraat, maar sy het respek afgedwing met haar menswees. Zoetjé was misterieus en anders as al die ander mense op die aarde. Jy kon haar nie in ‘n vorm giet nie.
Sy was glad nie die tipiese predikantsvrou nie en tog het sy op niemand se tone getrap nie. Sy het haar plek volgestaan in die kerk en selfs in die koor gesing. Ek was jammer om te hoor dat sy Stella toe sou trek, want sy was net ‘n jaar in my Kunste & Handvlyt-groep. Maar ek is so bly oor daardie vergadering wat ons einde Februarie gehou het. Sy het vir my na die tyd gesê dit was vir haar lekker om haar boeke te kon bekendstel en die eerste hoofstuk van haar vierde boek te kon voorlees.
Ons is dankbaar teenoor ons Hemelse Vader wat haar vir 65 jaar op hierdie aarde met ons en haar familie gedeel het.”
Die huldeblyk is gevolg deur ‘n minuut van stilte ter herinnering aan die wonderlike VLV-lid wat Kuruman-tak verloor het.
Zoetjé is op 9 April 2019 met Hennie Oosthuizen getroud – ‘n strandtroue in Namibië. Sy het op 13 Mei 2020 haar vyf-en-sestigste verjaarsdag gevier. Op Woensdag 30 September 2020 is haar lewe kort geknip.
Die lede van Kuruman VLV-tak het op Woensdag 7 Oktober 2020 blommekransies in hul hare gedra ter na gedagtenis aan Zoetjé Oosthuizen wat op Woensdag 30 September 2020 oorlede is. Voor vlnr: Hettie du Plessis-Krüger, Erika Sieberhagen, Corné Griessel, Sarina Malan, Alta Roets, Karin van der Walt, Tinkie Erasmus, Lavina Schoeman, Lynn Nel en Marianne Vorster. Agter vlnr: Zelda Lombaard, Madri Nieuwoudt, Petro Spangenberg, Magdaleen de Klerk, Arina Beukes, Estelle van den Berg, Ansie Venter, Noeline du Toit, Emmie Cloete, Janet Strydom, Fransie Scanlen, Bessie Kriek en Janet West. Heel agter: Louise Coetzee, Anet Strauss en Rina Scheepers.
Haar raad aan opkomende skrywers was altyd: “Skryf die storie – al is dit met potlood op papier, want die storie gaan jou nie los voordat jy dit geskryf het nie!”
Leave A Comment